Nuus 11:00
BULLETIN 8 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Civic Root Advocacy sê vertragings met die verwerking van die Wetsontwerp op Koalisies dui op regeringsversuim
# Iran beskuldig Kanada dat hy toegee aan druk van Amerika
# En sokker: ‘n Presidentskandidaat gee SAFA ‘n sperdatum om Bafana Bafana se Wêreldbeker-bonusse te betaal
# Civic Root Advocacy sê die vertragings rondom die parlementêre verwerking van die Wetsontwerp op Koalisies toon die regering se inherente onvermoë om plaaslike regeringsuitdagings op te los. Die wetgewing beoog om koalisieraamwerke binne plaaslike regerings te standaardiseer. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake hoop dit sal voor November se plaaslike regeringsverkiesing deurgevoer word. Die drukgroep se navorser, Hlumelo Xaba, sê die vertraging van die wetsontwerp kan die voortgesette onbestendigheid in onbesliste munisipaliteite verder uitrek na die verkiesing.
# Meer as 16-duisend verdagtes is landwyd vasgetrek tydens ‘n week lange operasie teen geweldsmisdaad, onwettige handel, dwelmhandel, immigrasie-oortredings, onwettige vuurwapens en ander misdade. Die Shanela-operasies het gelei tot die inhegtenisneming van vyfduisend-520 gesoekte misdadigers wat met ernstige en geweldsmisdade verbind word. Woordvoerder Vincent Mukhathi sê hulle het beslag gelê op sigarette van meer as 41-miljoen-rand en koper en metaal van 20-miljoen-rand:
Die DA sê intussen misdaad word ‘n groeiende bedreiging vir landelike en boerderygemeenskappe in die Wes-Kaap. Dit volg na twee voorvalle in die Kaapse Wynlande oor die naweek, insluitend ‘n aanval op twee inwoners op ‘n plaas langs Bottelaryweg. Benedicta van Minnen van die DA sê 133 aanvalle op boere is tot dusver vanjaar aangeteken en vra vir provinsiewye wetstoepassingsoptrede om boerdery- en landelike gemeenskappe te beskerm:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se Ministerie van Buitelandse Sake beskuldig Kanada dat hy na sy afknouerige buurman, Amerika, se pype dans en strategiese verwarring en onderwerping aan intimidasie toon. Ottawa het Teheran se destabiliserende optrede in die Midde-Ooste veroordeel en besluit om saam met vennote druk op Iran vol te hou deur onder meer sanksies en ondersteuning om die Seestraat van Hormoes te heropen. Die ministerie se woordvoerder, Esmaeil Baghaei, sê Kanada kan nie ʼn kampvegter vir vrede en veiligheid, vrye navigasie en internasionale reg wees terwyl hy Amerika se aggressie ondersteun nie.
# Sokker: ‘n Presidentskandidaat van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Sandile Zungu, het die vereniging tot Donderdag tyd gegee om Bafana Bafana se spelers en tegniese span se Wêreldbeker-bonusse te betaal. SAFA skryf die vertraging toe aan uitstaande nakoming van internasionale belastingvereistes in Amerika en Mexiko, waar Suid-Afrika wedstryde gespeel het, om sowat 2,5-miljoen-rand aan elke speler te betaal. Zungu waarsku die verantwoordelike persone sal afgedank word as hy Saterdag verkies word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-302-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-408-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….