Nuus 07:00
BULLETIN 7 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Angie Motshekga is hartseer oor die dood van ses leerders in die Vrystaat
# President Cyril Ramaphosa verleng die SARS-hoof Edward Kieswetter se termyn
# En, die Europese Kommissie beklemtoon die noodsaaklikheid van voortgesette hulp aan Oekraïne
# Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het hartseer uitgespreek na die dood van ses leerders in die Vrystaat. Die bus waarin hulle gereis het, het gisteraand op die R70 tussen Ventersburg en Senekal omgeslaan. Die 58 leerders van Hoërskool Riebeeckstad het aan ‘n sportgeleentheid vir meisies in Moolmanshoek deelgeneem. Motshekga sê dis nie die soort nuus wat ouers verwag wanneer hulle kinders op ʼn skooluitstappie gaan nie. Sy sê ʼn ondersoek sal hopelik lig werp op wat gebeur het.
# President Cyril Ramaphosa het die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, se vyfjaar-termyn wat op 30 April vanjaar verstryk, verleng. Die presidensie sê dit is om ʼn gladde oorgang in die organisasie te verseker. Kieswetter het in Junie verlede jaar drie adjunkkommissarisse aangestel om die grondslag vir ʼn opvolger te lê. Volgens berigte sê sommige regeringsamptenare in die binnekring die oorgangstydperk moet langer wees gegewe die ingewikkeldheid en eise van die posisie.
# Build One South Africa hou vandag ‘n byeenkoms vir werkloses voor die stadsaal in Kaapstad, net voor môreaand se staatsrede. Die party se leier, Mmusi Maimane, sal deur die adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster, vergesel word om die stemme van werkloses te versterk. Volgens BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, versoek hulle president Cyril Ramaphosa om aandag te skenk aan die groeiende werkloosheidskrisis en doeltreffende ingrypings aan te kondig om die ekonomie ‘n hupstoot te gee:
# Die DA sê Gauteng se kwesbaarste inwoners lei honger aangesien die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling slegs 17-persent van sy begroting van 18-miljoen vir voedselbanke bestee het. Die party sê 306-duisend inwoners is daarom sonder noodsaaklike voedselpakkies. Hulle eis vinnige optrede van die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Mbali Hlophe, om voedselbanke aan te vul en aandag te gee aan die kritieke voedselbehoeftes van die bevolking wat nie na hulleself kan omsien nie. Refiloe Nt’sekhe van die DA beloof om duidelikheid te verkry oor die redes agter die onderbesteding.
# Die Europese Kommissie sê hy sal voortgaan met sy momentum om Oekraïne te ondersteun deur onder meer die lewering van ammunisie te versnel. Die Europese Unie beplan om volgende maand te begin met die eerste betalings van die sowat een-miljard-rand Oekraïne Fasiliteitsfonds. Die befondsing sal die land se ekonomie en finansiële bestendigheid versterk. Die kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê hulle sal teen volgende maand meer as ʼn halfmiljoen rondtes artillerieplofkoppe gelewer het en teen die einde van die jaar meer as een-miljoen:
# Rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander, sê die samestelling van die Springbokke se nuwe afrigtingspan is gemik op die uiteindelike doelwit van ‘n driekuns van agtereenvolgende Wêreldbeker-titels op die volgende toernooi in Australië. Die unie het bevestig Rassie Erasmus keer terug as hoofafrigter tot 2027 en gee sy pos as direkteur van rugby op, wat nie weer gevul word nie. Erasmus het groot name bygevoeg, insluitend die voormalige All Blacks-losskakel Tony Brown, die voormalige Ierse haker Jerry Flannery, die uitgetrede Bok-agsteman Duane Vermeulen en die uitgetrede skeidsregter, Jaco Peyper.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-53-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-35-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus…