Nuus 18:00
BULLETIN 7 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister David Maynier moedig Suid-Afrikaners aan om die land se nasionale parke tydens Parke-week te verken
# Bewaarders by Rooigrond-gevangenis word moontlik geskors ná ‘n gevangene ontsnap
# En, rugby: Ethan Hooker sê dis ‘n voorreg om vier keer agtereenvolgens teen die All Blacks te speel
# Suid-Afrika se 21ste jaarlikse Nasionale Parke-week vind van vandag af tot 13 September plaas. Suid-Afrikaners kry gedurende dié week gratis dagtoegang tot deelnemende nasionale parke. Die aanbod sluit onder meer die Krugerwildtuin in Limpopo en Mpumalanga, die Weskus Nasionale Park in die Wes-Kaap en die Augrabies-waterval Nasionale Park in die Noord-Kaap in. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, sê verblyf, wildritte en ander betaalde dienste is nie ingesluit nie:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste soek na ‘n gevangene wat uit die Rooigrond Maksimum Korrektiewe Sentrum naby Mahikeng in Noordwes ontsnap het. Edward Khomotso Madiba het glo gister deur ‘n seldeur gesny om te ontsnap. Singabakho Nxumalo van die Departement sê agt amptenare kan moontlik geskors word terwyl die ondersoek na die ontsnapping voortduur. Nxumalo verwelkom enige inligting wat kan help om die voortvlugtende op te spoor:
# Die Stad Kaapstad verskerp pogings om fetale alkoholspektrumversteuring te voorkom deur jongmense op te voed oor die gevare van alkohol- en dwelmmisbruik tydens swangerskap. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Raadslid Francine Higham, sê die stad se “Driving my Future”-program het die afgelope jaar meer as drie-duisend-500 leerders bereik en gehelp om hul begrip van die versteuring en die impak daarvan op kinders te verbeter:
# Iran sal in die komende dae ‘n nuwe beperkte sone in die Golf aankondig te midde van toenemende spanning met die VSA oor skeepvaart deur die Straat van Hormoes. Die veiligheidshoof Mohsen Rezaei sê skepe wat die nuwe sone binnegaan, sal gestraf word. Iran beplan ook om kaarte te publiseer vir ‘n nuwe internasionale skeepskorridor deur die seestraat, wat hy saam met Oman sal bestuur. Teheran sê die waterweg sal oop bly wanneer die VSA sy aanvalle en dreigemente teen Iran staak. Die jongste stap het oliepryse weer laat styg.
# Rugby: Die speler van die wedstryd in die derde toets tussen Suid-Afrika en die All Blacks, die Springbok-senter Ethan Hooker, verwag neutrale steun in die naweek se vierde en laaste wedstryd in Baltimore, Amerika. Hy sê die Bokke gaan alles uithaal om die reeks te beklink nadat hulle in Johannesburg ‘n voorsprong van 2-1 opgebou het. Hooker sê die reeks is sielkundig en fisies taai, maar hulle is geëerd om vier keer in ‘n ry teen ‘n span met sulke aansien te speel. Afrigter Rassie Erasmus gaan sy span vanaand aankondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-76-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-405-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….