Nuus 15:00
BULLETIN 7 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Stuart Scharnick se verskeie adresse is ‘n uitdaging in sy borgtog-aansoek
# Afrika Mayibuye beloof om die munisipale tenderstelsel te skrap
# En krieket: ‘n Sterk Australiese groep word aangewys vir die toetsreeks teen Suid-Afrika
# Die Randburgse Landdroshof in Gauteng het die sakeman en vennoot van die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya, Stuart Scharnick, uitgevra oor die verskillende woonadresse in sy beëdigde verklaring. Hy vra borgtog nadat hy van vuurwapenverwante misdrywe aangekla is. Die hof sê adresse wat verskaf word, moet aandui waar ‘n persoon werklik woon. Scharnick, wat homself verdedig, sê hy beskou ‘n eiendom as sy woonadres, al woon hy nie deurentyd daar nie:
# Die president van die Afrika Mayibuye-beweging, Floyd Shivambu, sê die party sal munisipaliteite se tenderstelsel skrap omdat dit grootliks verantwoordelik is vir korrupsie en swak dienslewering. Hy het die party se plaaslike regeringsverkiesings-veldtog bekend gestel in Midrand, Gauteng. Shivambu sê politieke leiers gebruik dikwels tenders om hulself te verryk. Hy voer aan munisipaliteite moet die nodige interne kundigheid en vermoë ontwikkel om dienste self te lewer en nie uit te kontrakteer nie om korrupsie hok te slaan. Shivambu het die publiek aangemoedig om tenderbedrieërs en korrupte amptenare uit te wys.
# Die Wes-Kaapse Departement van Beweeglikheid verwelkom die mylpaal-vredesooreenkoms wat die taxiverenigings CATA en CODETA onderteken het ná weke van dodelike taxigeweld. Die ooreenkoms volg op noodlottige aanvalle wat verband hou met ‘n geskil oor die winsgewende Somerset-Wes-roete. Woordvoerder Muneera Allie sê die departement verwag van alle partye om hul verpligtinge na te kom. Sy waarsku die departement sal nie sal huiwer om die nodige afdwingingsmaatreëls in te stel indien onwettige optrede plaasvind nie.
# ActionSA sê hy het ernstige bestuursgebreke in die Padongelukkefonds blootgelê nadat meer as 29-miljoen-rand aan 16 werknemers betaal is terwyl hulle geskors is, sommige reeds sedert 2024. Dit beloop ‘n gemiddeld van 1,82-miljoen-rand per werknemer sonder dat enige werk gedoen is. Alan Beesley van die party sê ‘n parlementêre antwoord toon drie werknemers is reeds langer as ‘n jaar geskors, terwyl 37-duisend ongelukslagoffers steeds wag op uitbetalings:
# Krieket: Australië het ‘n sterk groep van 16 spelers aangekondig vir volgende maand se reeks van drie toetse in Suid-Afrika. Kaptein Pat Cummins, Josh Hazlewood, Mitchell Starc en Nathan Lyon sal die boul-aanval lei, terwyl Steve Smith die kolwers lei. Die kolwer Marnus Labuschagne, wat tans nie op dreef is nie, het sy plek behou, terwyl Cooper Connolly, Michael Neser en Matthew Kuhnemann ook ingesluit is. Australië se toetsspan keer die eerste keer na Suid-Afrika terug ná die omstrede skuurpapier-skandaal van 2018.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-404-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-390-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….