Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die uitvoerende hoof van Vodacom, Shameel Joosub gaan appèl aanteken teen die hofbeslissing dat die uitvinder van Please Call Me, Nkosana Makate ‘n nuwe aanbod moet ontvang. Die koerant berig die stap sal die betaling aan Makate verder vertraag.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens verder oor die lot van intreevlak-dokters wat volgens die regering te duur is. Daar is tans sowat 660 gekwalifiseerde dokters wat nie deur die staat geplaas word nie. Van die dokters sê het hulle tot 45 aansoeke ingedien vir poste in verskeie provinsies in die land.
Dan skryf die koerant president Cyril Ramaphosa se Staatsrede gaan die belastingbetaler vanjaar 6,5-miljoen-rand kos.
Voorts word berig oor ses leerders van die Hoërskool Riebeeckstad wat in ‘n busongeluk omgekom het. Die bus waarmee hulle van ‘n skoolkamp teruggekeer het, het naby Ventersdorp omgeslaan.
En laastens is daar nuus oor die 14-jarige krieketspeler Josh Anderson van Trinity House Rand Park Ridge wat 357 lopies van 162 balle aangeteken het.
The Star en Pretoria News:
Skryf soos Business Day Vodacom het 30 dae om ‘n aanbod aan Nkosana Makate te maak.
En berig Nigeriese sokkerondersteuners in die land sal maar versigtig moet wees wanneer Bafana Bafana teen die land te staan kom in die Afcon.
# Sowetan:
Berig die omstrede tenderpreneur, Edwin Sodi sal in die toekoms geen werk vir die Departement van Openbare Werke mag doen nie. Dit volg nadat verskeie staatstenders wat hy ontvang het in chaos met reuseverliese ontaard het.
# En The Citizen:
Skryf munisipaliteite staan die kans om miljoene rand te verloor aangesien hulle ingevolge Aarto nie meer verkeersboetes regstreeks gaan ontvang nie. Die geld gaan eers aan die Padverkeersoortredingsowerheid betaal word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die busongeluk waarin ses leerders omgekom het. Van die ander 52 meisies wat in die bus was, is vier in ‘n bedenklike toestand en nog ses lig beseer. Die Vrystaatse owerhede sê die ongeluk sal deeglik ondersoek word.
En tweedens word berig die polisie is besig met ‘n deursoeking van die gebied in Botshabelo waar vier liggame gevind is. Daar word vermoed die moorde is deur ‘n reeksmoordenaar gepleeg.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die brand wat in die Brandvlei-gevangenis buite Worcester uitgebreek het. Altesaam 394 gevangenes is na ander tronke vervoer en nie een het ontsnap nie.
En dan skryf die koerant ook oor die 6,5-miljoen-rand wat die Staatsrede gaan kos.
# En Cape Times:
Berig eerstens ook oor die Please call me-uitvinder se voortgesette stryd met Vodacom.
En skryf oor die Parlement se planne om te verhoed dat die Staatsrede weer ontwrig word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig drie munisipale verkeersbeamptes van Sondagsrivier wat na bewering omkoopgeld ontvang het vir die vervalsing van leerling- en bestuurslisensies, het in die Hooggeregshof in Gqeberha verskyn.
En tweedens skryf die koerant ’n man is helder oordag naby ’n laerskool in Rosedale, Kariega, doodgeskiet terwyl leerders, ouers en gemeenskapslede vir hul lewens gevlug het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n grondwetkenner sê koning Misuzulu kaZwelithini se aansoek om beheer oor te neem van die Zoeloes se grond is nie demokraties nie en sal waarskynlik nie slaag nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibiese dokters word tans gedwing om óf nie langer enige hospitaalprosedures uit te voer nie óf ’n aansienlike bybetaling van pasiënte te vereis.
En skryf tweedens Namibië se vierde president, Nangolo Mbumba sê Namibiërs moet hulself optel en weer verbind aan die idee van eenheid.