Nuus 13:00
BULLETIN 7 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof wys Mapisa-Nqakula se aansoek van die hand
# Jub Jub se vuurwapensaak word tot 17 September uitgestel
# En gholf: Thriston Lawrence van Suid-Afrika word slegs die tweede speler om die Europese Meesters drie keer te wen
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se aansoek om ontslag ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet van die hand gewys. Sy staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery. Mapisa-Nqakula het na bewering omkoopgeld van 4,5-miljoen-rand van die Weermagkontrakteur Nombasa Ntsondwa-Ndhlovu ontvang terwyl sy minister van Verdediging was. Regter Mashudu Munzhelele het bevind die staat het voldoende getuienis voorgelê:
Nog nuus uit die howe:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag is gereed vir die vuurwapensaak teen die TV-persoonlikheid Molemo Maarohanye, bekend as Jub Jub. Hy staan tereg op aanklagte wat verband hou met ‘n beweerde onderonsie met ‘n e-taxi-bestuurder op 14 Junie. Die NVG se woordvoerder, Magaboke Mohlatlole, het bevestig Maarohanye het vandag in die Germistonse Landdroshof in Gauteng voorgekom nadat hy voorheen nie verskyn het nie. Hy sê die staat het uitstel versoek tot 17 September:
# Die landbou-organisasie TLU SA is tevrede met die minister van Landbou, Willie Aucamp, se verbintenis tot die hervorming van die sektor. Die regering en die privaat sektor het saamgewerk om meer as 23-miljoen dosisse bek-en-klouseer-entstof in te voer, met elke kommersiële melkkoei in Suid-Afrika wat reeds ‘n eerste dosis entstof ontvang het. Bennie van Zyl van TLU SA sê daar is steeds ‘n paar beleidskwessies waaraan Aucamp moet aandag gee:
Nuus uit die buiteland:
# Die toonaangewende handelsliggaam Eurometal voorspel Europa kan teen einde vanjaar 300-duisend vervaardigingsposte verloor weens toenemende mededinging vanuit China. China se vervaardigingsuitvoere na die Europese Unie het die EU se handelstekort tot ‘n rekordvlak van 18,52-miljard-rand per dag laat styg. Eurometal se president, Alexander Julius, sê die probleem word vererger omdat Europese ondernemings hoë koolstofbelasting en heffings op staalinvoere moet betaal, terwyl Chinees-vervaardigde goedere nie aan sulke heffings onderhewig is nie, wat regverdige mededinging onmoontlik maak.
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Thriston Lawrence, het die Europese Meesterstoernooi in Switserland gewen en by die Spaanse meester Seve Ballesteros aangesluit as die enigste spelers om die toernooi drie keer te wen. Die Suid-Afrikaner het Paul Casey op die vierde uitspeel-putjie getroef. Nog ‘n Engelsman, Harry Hall, het in die laaste ronde sewe onder baansyfer aangeteken om derde te eindig, een hou agter Lawrence en Casey. Lawrence, wat nou ses oorwinnings op die DP World-toer behaal het, het prysgeld van net meer as tien-miljoen-rand gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-470-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-404-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….