Nuus 12:00
BULLETIN 7 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa sê Suid-Afrika moet hervormings in tasbare verbetering omskep
# Minister Hlabisa verwelkom 100 munisipaliteite se aanvaarding van die Kode vir Etiese Leierskap in Plaaslike Regering
# En Israelse lugaanvalle eis 11 lewens in Libanon
# Business Leadership South Africa sê sakevertroue bly ver agter, hoewel talle tekens daarop dui hervormings bou stukrag op. Sakevertroue het in die derde kwartaal tot 38-persent gedaal, met 62-persent van deelnemers wat ontevrede is met die heersende sake-omgewing. Uitvoerende hoof Busisiwe Mavuso sê die belangrikste positiewe ontwikkeling is die Nasionale Tesourie wat voorstelle van raadgewers aangevra het oor die ontbondeling van Eskom se transmissiebates. Sy sê Suid-Afrika het egter nog baie werk om te doen voor hervormings tot werklike verbeterings in die bedryfsomgewing sal lei.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, verwelkom 100 munisipaliteite se aanvaarding van die Kode vir Etiese Leierskap in Plaaslike Regering. Dis daarop gemik om ‘n plaaslike regering te bou wat verbind is tot etiese standaarde, dienslewering en goeie bestuur. Hlabisa se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê die aanvaarding weerspieël ʼn toenemende verbintenis in plaaslike regering om etiese leierskap en aanspreeklikheid die hart van munisipale leierskap te maak:
Nuus uit die buiteland:
# Israelse lugaanvalle op ‘n dorp in die suide van Libanon het minstens 11 lewens geëis, insluitend twee kinders. Die aanvalle het ‘n drieverdieping-woonstelgebou en ‘n burgerlike voertuig in Kfar Rumman getref. Die Israelse Weermag sê die aanvalle was vergelding vir hommeltuigaanvalle deur die gewapende groep Hisbollah op sy soldate in besette gebiede. Die Libanese president, Joseph Aoun, waarsku die aanvalle verteenwoordig ‘n gevaarlike verergering wat die Amerikaans-bemiddelde skietstilstand van Junie in gevaar stel.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, pak die plaaslike speler Ben Shelton in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope. Die Spanjaard het die 20ste-gekeurde Amerikaner Tommy Paul, verslaan, terwyl Shelton die Griek Stefanos Tsitsipas uitgeskakel het. Nog ‘n Amerikaner, Frances Tiafoe, het 2021 se kampioen, Daniil Medvedev van Rusland, geklop. Die tweemalige vroue-kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, is die sesde agtereenvolgende jaar deur na die kwarteindronde nadat sy die Amerikaner Taylor Townsend geklop het. Sy speel teen die Wimbledon-kampioen, die Tsjeg Linda Noskova, wat Marta Kostyuk van Oekraïne uitgeskakel het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-443-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-422-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad nooi rolprentmakers uit om vir ondersteuning aansoek te doen. Voorleggings kan van vandag ingedien word vir projekte wat in die 2026/27-boekjaar voltooi sal wees. Die rolprentfonds bied finansiële ondersteuning of munisipale dienste vir projekte wat in Kaapstad vervaardig word. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê hulle wil plaaslike ekonomiese ontwikkeling bevorder, werk skep in die rolprent- en media-waardeketting en opkomende talent versterk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….