Nuus 07:00
BULLETIN 7 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Firoz Cachalia vra ‘n polisiediens wat die vertroue van sy gemeenskappe verdien
# Die uitspraak oor Nosiviwe Mapisa-Nqakula se ontslagaansoek word vandag verwag
# En krieket: Die Proteas klop Zimbabwe om die T20-driehoekreeks te wen
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die beste manier om gevalle beamptes te vereer, is om ‘n polisiediens te bou wat gegrond is op professionaliteit, dissipline, integriteit en dapperheid. Dit was gister die jaarlikse nasionale SAPD-herdenkingsdag in Pretoria, waar 12 beamptes wat tussen April verlede jaar en Maart vanjaar dood is, vereer is. Hulle is dood terwyl hulle gereageer het op misdade, verdagtes agtervolg het, of ander beskerm het. Cachalia sê daar is opgetree teen die mense wat vir hierdie moorde verantwoordelik was:
# Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria sal na verwagting vandag uitspraak lewer in die gewese speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se Artikel 174-ontslagaansoek. Sy staar 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery in die gesig wat verband hou met haar termyn as minister van Verdediging en Militêre Veterane van 2016 tot 2019. Die staat voer aan dat die Weermagkontrakteur, Nombasa Ntsondwa-Ndlhovu, sowat 4,55-miljoen-rand omkoopgeld aan Mapisa-Nqakula betaal het. Volgens haar regspan het die staat nie genoeg bewyse gelewer om haar skuldig te bevind nie.
# ActionSA het kommer uitgespreek oor berigte dat die DA oorweeg om die Kaapse raadslid Abdulkader “AK” Elyas na die Parlement of die Wes-Kaapse Wetgewer te bevorder. Die voorsitter van ActionSA in die Wes-Kaap, Dereleen James, sê Elyas is skuldig bevind in ‘n interne DA-tugproses aan die vervalsing van kwalifikasies en oneerlikheid. James doen ‘n beroep op die DA om die beplande ontplooiing te verduidelik en sê openbare verteenwoordigers moet die hoogste standaarde van eerlikheid en integriteit handhaaf.
# Die Amerikaanse gesante, Steve Witkoff en Jared Kushner, sê hulle het betekenisvolle, omvangryke gesprekke met Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, gevoer. Gister se vergadering volg ná die gesante se drie uur lange onderhandelings Saterdag in Moskou met die Russiese president, Vladimir Putin. Zelensky en Putin het ingestem om drie dae lank aanvalle op mekaar se hoofstede te staak, terwyl die bemiddelaars hul reis voortsit. Kushner, president Donald Trump se skoonseun, sê die president is vasbeslote dat die oorlog moet eindig:
# Krieket: Die Proteas het ʼn oortuigende oorwinning oor Zimbabwe behaal om die T20-drienasiesreeks in Windhoek, Namibië, te wen. Jordan Hermann het sy eerste T20-vyftigtal behaal en Suid-Afrika met 53 van 29 balle gehelp om 205 vir vyf op die telbord te plaas. Daarna het Bjorn Fortuin en Duan Jansen elkeen drie paaltjies platgetrek en Zimbabwe was na 18 boulbeurte op 157 almal uit. Die Proteas fokus nou op die eendagreeks van drie wedstryde teen gasheerland Namibië, en die openingswedstryd is Woensdag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 21-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-866-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-410-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 98-dollar-31-sent per vat.
# En ten slotte: Die operasionele direkteur van die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep, Cassey Chambers, vra vinnige optrede om selfdood aan te spreek. September word tans as Selfdoodvoorkomingsmaand erken. Chambers sê in ‘n onderhoud met die SABC selfdood is die tweede grootste oorsaak van sterftes onder 15- tot 29-jariges, terwyl mans ongeveer 80-persent van die syfer uitmaak. Sy het beklemtoon dat onbehandelde depressie en finansiële druk van die bydraende faktore is, en versoek mense om hulp te soek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….