Nuus 13:00
BULLETIN 6 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vereer die polisiehelde wat aan diens dood is
# Die DA verwelkom die nuwe waarnemende IDAC-hoof met versigtigheid
# En tennis: Zverev het deurgedring na die 4de ronde van die Amerikaanse Ope
# President Cyril Ramaphosa het die 12 polisiebeamptes vereer wat gedurende die afgelope boekjaar in die uitvoering van hul pligte dood is. Hy het tydens die SAPD-herdenking in Pretoria gesê die beamptes moet nie as statistieke onthou word nie, maar as familielede en kollegas. Ramaphosa sê polisieveiligheid is almal se verantwoordelikheid. Hy het gevra vir sterker gemeenskapsbetrokkenheid in die bestryding van misdaad, en hy ondersteun die SAPD se “Dink Eers – Tree Veilig Op” Polisieveiligheidsaksieplan:
# Die DA het die aanstelling van advokaat Ntuthuzelo Vanara as waarnemende hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie met versigtigheid verwelkom. Glynnis Breytenbach van die DA sê Vanara moet hernude fokus, professionaliteit en dringendheid na die direktoraat bring. Sy waarsku egter dat die waarnemende rol tydelik moet bly en doen ‘n beroep op ‘n permanente aanstelling wat vinnig en deursigtig gedoen word. Sy sê dit is steeds die DA se standpunt dat IDAC uiteindelik deur ‘n onafhanklike Teen-Korrupsie Kommissie met groter magte vervang moet word.
Die party het intussen onthul dat Ekurhuleni geen leefstyloudits op munisipale amptenare uitgevoer het nie, en sê dit sal onder ‘n DA-regering verander. Die burgemeesterskandidaat Khathutshelo Rasilingwane sê honderde oudits sal binne die eerste ses maande uitgevoer word, beginnende met senior amptenare en hoërisiko-posisies. Rasilingwane het ‘n fluitjieblaser-beskermingseenheid binne die eerste 100 dae belowe om korrupsie te teiken, finansiële bestuur te verbeter, infrastruktuur te herstel en openbare veiligheid te versterk:
# Die EFF in Gauteng het die provinsie se Tesourie geprys vir die handhawing van ‘n skoon oudit vir die 2025/26 boekjaar. Die party sê die resultaat weerspieël gedissiplineerde finansiële bestuur en sterker interne beheermaatreëls. Die Tesourie het meer as sewe-miljard-rand in provinsiale inkomste ingevorder en e-tol-skuldverpligtinge nagekom terwyl noodsaaklike dienste beskerm word. Die EFF het ook ‘n faktuurstelsel verwelkom wat betalings binne tien tot 30 dae verwerk, en sê dit ondersteun klein en township-ondernemings. Die party het gevra vir voortgesette finansiële aanspreeklikheid regoor die regering.
Tennis: Die eerste-gekeurde manspeler, Alexander Zverev, het gister tot die laaste 16 van die Amerikaanse Ope deurgedring met ‘n oorwinning in skoon stelle oor Chili se Alejandro Tabilo, terwyl die verdedigende kampioen Carlos Alcaraz en Daniil Medvedev ook steeds in die wedloop is. Die Amerikaanse hoop ‘n knou gekry, met Taylor Fritz wat deur Argentinië se Francisco Cerundolo uitgeskakel is. In die vroue-afdeling het Coco Gauff, Iga Swiatek, Naomi Osaka en die verdedigende kampioen Aryna Sabalenka deurgedring. Madison Keys en Amanda Anisimova was onder die hoëprofiel spelers wat uitgeval het.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse immunoloog, professor Clive Gray, is bekroon met die gesogte Koninklike Vereniging se Afrika-prys deur Brittanje se Koninklike Vereniging, die wêreld se oudste wetenskaplike akademie. Gray, ‘n professor aan die Universiteit Stellenbosch, is erken vir baanbrekersnavorsing oor die uitwerking van MIV op moeder- en kindergesondheid. Sy werk fokus op MIV-blootgestelde, onbesmette kinders en plasenta-gesondheid. Die toekenning erken ook sy bydrae tot die bou van wetenskaplike vermoë in Afrika en die mentorskap van honderde jong navorsers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….