Nuus 07:00
BULLETIN 5 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Uitspraak word voorbehou in president Ramaphosa se Phala Phala-hersieningsaansoek
# Eskom voltooi ‘n suksesvolle 2026-winter
# En Krieket, die Proteas klop Namibië met 11 lopies vir ‘n plek in die eindstryd van die T20- driehoekige reeks
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het uitspraak voorbehou in president Cyril Ramaphosa se aansoek om die Artikel 89-verslag deur die Onafhanklike Paneel oor die Phala Phala-skandaal tersyde te stel. Die driedag-verhoor is deur regterpresident Nolwazi Mabindla-Boqwana gelei en moes bepaal of die Konstitusionele Hof binne sy mandaat was met sy bevindinge oor die verslag. Ramaphosa se regspan het aangevoer die paneel het op ongetoetste bewyse staatgemaak en gevra vir ‘n tersyde-stelling. Vier opposisiepartye, waaronder die MK-party, het aangevoer ‘n laer hof het nie regsbevoegdheid in die saak nie.
# Die GOOD Party sê die jongste syfers oor voedselarmoede beklemtoon die ontoereikendheid van die maatskaplike verligtingstoelaag van 370-rand. Die party voer aan die toelaag is heelwat laer as die maandelikse bedrag van 868-rand wat nodig is om in ‘n volwassene se basiese daaglikse voedselbehoeftes te voorsien. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron doen ‘n beroep op die vervanging van die SRD-toelaag met ‘n basiese inkomstetoelaag van minstens een-duisend-457-rand om miljoene werklose Suid-Afrikaners te help om in hul basiese behoeftes te voorsien:
# Die staat sê die leerdervervoerbestuurder Ayanda Dludla se lewe kan in gevaar wees indien hy borgtog kry, weens voortgesette openbare woede oor die ongeluk waarin 14 leerders vroeër vanjaar in Vanderbijlpark dood is. Die staat het aan die Vanderbijlpark-landdroshof gesê Dludla se vrylating sal nie in belang van geregtigheid wees nie. Dludla staan tereg op 14 aanklagte van moord, drie aanklagte van poging tot moord en verskeie bestuurderverwante aanklagte.
# Eskom sê hy kon ten volle in die elektrisiteitsvraag gedurende die 2026-winter voorsien, met Suid-Afrika wat nou reeds 476 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag is. Die nutsmaatskappy se energiebeskikbaarheidsfaktor het op ‘n jaargrondslag tot 67,79-persent gestyg, die hoogste sedert 2020, terwyl onbeplande onderbrekings tot 19,47-persent gedaal het. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê dieseluitgawes het met 4,84-miljard-rand gedaal tot 1,08-miljard-rand. Sy sê meer as 1,2-miljoen kliënte is ook van lasvermindering vrygestel:
# ‘n Russiese hommeltuig het gister die hoofkwartier van Oekraïne se SBU-veligheidsdiens in Kiëf getref, een van die mees prominente teikens sedert Rusland sy lugaanvalle op Oekraïne verskerp het. Minstens 12 mense is in die aanval beseer. Dit kom te midde van twee Amerikaanse vredesonderhandelaars se beplande besoek môre aan Kiëf. President Volodymyr Zelensky het Rusland intussen gevra om sy lugaanvalle op Oekraïne tydens die besoek te staak. Hy sê Kiëf sal die veiligheid van die Russiese lugruim vir hul reis na Moskou waarborg.
# En krieket: Die Proteas het Namibië gister in Windhoek met 11 lopies geklop en daarmee hul plek in die eindstryd van die T20- driehoekige reeks verseker. Suid-Afrika het 228 vir vier aangeteken, met Lhuan-dré Pretorius wat sy eerste T20 Internasionale honderdtal bereik het met 101 lopies van 53 balle. Connor Esterhuizen het ook beïndruk met 88 van 40 aflewerings. Namibië het sterk teruggeveg maar is beperk tot 217 vir drie. Die oorwinning is Suid-Afrika se eerste oor Namibië in internasionale krieket. Die Proteas pak Zimbabwe in Sondag se eindstryd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….