Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die voormalige Springbok-losskakel Morné Steyn sê die Klas van 2026 kan ‘n ongelooflike ervaring verwag in môre se derde toets teen die All Blacks op die FNB-stadion in Johannesburg. Die stadion, bekend as die Calabash, sal na verwagting stampvol wees met tot 90-duisend toeskouers. Die slot Eben Etzebeth en kaptein Siya Kolisi is die enigste Springbokke wat al voorheen daar gespeel het. Steyn het tydens sy loopbaan twee keer daar gespeel en sê dis ‘n ander ervaring wanneer 90-duisend mense jou ondersteun.
Intussen sê die All Blacks-afrigter, Dave Rennie, daar is geen kwade gevoelens tussen hom en Bok-afrigter Rassie Erasmus nie. Dit volg op sy beskuldigings oor Suid-Afrika se beweerde onderduimse skrumtaktiek na die tweede toets in Kaapstad. Rennie het beweer die Bokke het rondom teenstanders geloop. Hy sê hulle gaan nie uit hul pad uit om verhale oor die skrum te skep nie:
# Krieket: ‘n Jong Protea-span hoop op ‘n heel eerste T20-oorwinning oor die gasheer in vandag se driehoekreeks-wedstryd in die Namibiese hoofstad, Windhoek. Suid-Afrika het verlede week die openingswedstryd teen Namibië verloor, wat kaptein Björn Fortuin as ‘n groot ontnugtering beskryf het. Die Proteas het Zimbabwe daarna egter twee keer verslaan en sal met ‘n oorwinning vandag deurdring na Sondag se eindstryd. Suid-Afrika is sonder talle gereelde spelers, maar kan staatmaak op opwindende jong talente soos Lhuan-dré Pretorius, Dewald Brevis en Kwena Maphaka, en die ervare Tony de Zorzi.
# Sokker: FIFA beskuldig die Europese beheerliggaam, UEFA, van ‘n smeerveldtog teen sy president, Gianni Infantino. UEFA het in drie Amerikaanse howe regsake aanhangig gemaak en versoek dat bewyse gevind word van Infantino se mislukte plan om aandele in die Wêreldbekertoernooi en ander kompetisies aan privaat beleggers te verkoop. Hy beskuldig Infantino van strafregtelike wanbestuur. FIFA voer in hofdokumente aan dat UEFA se betoog ʼn basiese fout en wetlike tekortkominge bevat. Hy sê UEFA tree op uit selfbelang om sy eie kompetisies te beskerm.
# En tennis: Die Australiër Nick Kyrgios het ʼn verminderde skorsing van ‘n maand aanvaar en uitgedien nadat hy positief getoets het vir kokaïen. Die 31-jarige speler is vroeg verlede maand voorlopig geskors nadat ʼn monster wat hy in Junie tydens die Majorka-ope in Spanje gegee het, positief getoets het vir ʼn kokaïen-metaboliet. Kyrgios het erken dat hy kokaïen gebruik het in ʼn nagklub. Hy het aangesluit by ʼn behandelingsprogram wat deur die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap goedgekeur is om die verstek-skorsing van drie maande te verminder. Sy skorsing het gister verstryk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….