Nuus 07:00
BULLETIN 4 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verkry befondsing van 5,6-miljard-rand om dienslewering te ondersteun
# Israel sê Amerika se sanksies kan Iran tot uiterste maatreëls dryf
# En rugby: Die All Blacks-afrigter sê praatjies oor ‘n vete met Rassie Erasmus is onbelangrik
# Die regering het konsessie-lening-finansiering van ongeveer 5,6-miljard-rand bekom om Nasionale Tesourie se Handelsdiens-hervormingsprogram vir metro’s te ondersteun. Die befondsing kom van die Duitse en Franse Ontwikkelingskorporasie deur KfW-ontwikkelingsbank en die Franse Ontwikkelingsagentskap. Die program se doelwit is om elektrisiteit, water en sanitasie, en vaste-afvalbestuur in Suid-Afrika se agt metropolitaanse munisipaliteite om te keer. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê gegewe die skaal van beleggings wat nodig is om handelsdienste om te keer, moet metro’s belegging vermeerder en bykomende finansiering verseker om die hervormingsbefondsing te ondersteun.
# Die vakbond Solidariteit het die verlenging van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika tot die einde van 2028 verwelkom. Die vakbond is egter bekommerd Suid-Afrika kan van die program uitgesluit word. Hy waarsku die verlies van AGOA-toegang kan die motor- en landboubedrywe benadeel en duisende werksgeleenthede kos. Jaco Kleynhans van Solidariteit het die VSA versoek om Suid-Afrika in AGOA te hou, aangesien die verlenging handelsbestendigheid bied:
# Die groepering vir justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid het ‘n gekoördineerde stabiliseringsprogram geaktiveer om normaliteit te herstel en alle inwoners van die Dr AB Xuma plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap se veiligheid te verseker. Dit volg na voortslepende onbestendigheid, gewelddadige betogings, padblokkades, intimidasie, en die ontwrigting van skole, sakeondernemings en openbare dienste. Dit hou verband met munisipale bestuurskwessies en bewerings teen die munisipale bestuurder, wat intussen voorlopig geskors is. Die groepering het ook onder leiding van verskeie staatsdepartemente ʼn span ontplooi om die munisipaliteit te bestendig.
# Israel se minister van Verdediging, Israel Katz, sê terwyl die nuwe Amerikaanse ekonomiese sanksies teen Iran blykbaar doeltreffend is, kan toenemende druk Iran tot uiterste maatreëls dwing. Amerika se Tesourie het verlede maand ʼn reeks nuwe sanksies teen Iran se ekonomie aangekondig. Die Amerikaanse leër het ook aanvalle teen Teheran hervat. Iran het vergeldingsaanvalle uitgevoer op Amerikaanse militêre teikens in die Golf en Jordanië, maar nie teen Israel nie. Katz waarsku indien Iran Israel aanval, sal hy toeslaan op al Teheran se nasionale militêre en burgerlike infrastruktuur.
# Rugby: Die All Blacks-afrigter, Dave Rennie, sê daar is geen kwade gevoelens tussen hom en Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, nie. Dit volg na sy beskuldigings oor Suid-Afrika se vermeende onderduimse taktieke in die skrum, na verlede naweek se tweede toets in Kaapstad. Hy het beweer die Bokke het in vaste skrums “rondom teenstanders geloop”. Rennie sê hulle gaan nie uit hul pad uit om narratiewe oor die skrum te skep in aanloop tot môre se derde toets in Johannesburg nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-866-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-479-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 98-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Run for Rangers het meer as 549-duisend-rand ingesamel om bewaring en pogings teen stropery in KwaZulu-Natal te ondersteun. Die geld sal aangewend word vir toerusting en opleiding vir veldwagters, die versterking van die stryd teen wildmisdaad, asook nuwe fasiliteite vir ‘n K9-anti-stropery-eenheid. Project Rhino sê die fondse sal praktiese ondersteuning bied aan veldwagters wat in die voorste linies werk om renosters en ander wildlewe te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….