Nuus 14:00
BULLETIN 3 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Sharpeville-oorlewendes eis geregtigheid en vergoeding
# Krieket: Indië gaan die eerste Vroue-kampioenetrofee aanbied
# En die VN waarsku die wêreld gaan binnekort die verwarmingsdrempel van 1,5-grade Celsius oorskry
# Oorlewendes en afstammelinge van die Sharpeville-slagting van 1960 het ‘n geskiedkundige saak teen die regering in die Hooggeregshof in Pretoria aanhanging gemaak. Lawyers for Human Rights en Leigh Day ondersteun die groep wat die hof vra om die Vrywaringswet van 1961 tersyde te stel. Die wet het amptenare van die apartheidsregering teen aanspreeklikheid beskerm. Die families eis vergoeding en moontlike strafregtelike vervolging. Meer as 70 oorlewendes en familielede het reeds aangedui hul wil by die saak aansluit. Hulle voer aan vorige vergoedingsmaatreëls was onvoldoende en het nie die langtermyn gevolge in ag geneem nie.
# Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging moedig uitvoerders aan om saam te werk en toegang tot internasionale markte te verkry ingevolge die Groepsvrystelling vir die Bevordering van Uitvoere. Dit laat kwalifiserende ondernemings toe om sekere koste, infrastruktuur, markinligting en logistieke hulpbronne te deel, en soms gesamentlik produkte te bemark. Die maatreël reageer op stygende tariewe, hoër logistieke koste en ‘n toenemend ingewikkelde wêreldhandelsomgewing. Dit wil kleiner ondernemings kans gee om internasionaal mee te ding. Uitvoerders word versoek om die vereistes en beperkings deeglik te verstaan voor hul samewerkingsooreenkomste aangaan.
# Die landbou-organisasie TLU SA sê sy jaarkongres in Pretoria het gefokus op landelike veiligheid, die beskerming van eiendomsregte, ekonomiese volhoubaarheid en die bewaring van grond en water. Die tema was: “Landbou: Begrond. Beskerm. Bewaar”. Hoofbestuurder Bennie van Zyl sê die paneelbesprekings het die basis gebied vir besprekings oor die beskerming van produsente en die hulpbronne waarvan toekomstige voedselproduksie afhang. Hy sê optrede is nodig om groter bestendigheid vir boere te skep:
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het bevestig dat Indië in Februarie die heel eerste Vroue-kampioenetrofee sal aanbied. Sri Lanka het die geleentheid verloor nadat sy regering by sy krieketraad ingemeng het. Ses spanne sal aan die T20-toernooi deelneem: Suid-Afrika, Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland en Sri Lanka. Die Internasionale Krieketraad se uitvoerende hoof, Sanjog Gupta, sê die toernooi sal ‘n skouspel wees wat die beste van vroue-krieket bied:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-609-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-423-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies sê aardverwarming sal waarskynlik binne die volgende paar jaar die verwarmingsdrempel van 1,5-grade Celsius oorskry, met temperature wat selfs in die gunstigste omstandighede met tot 1,8-grade Celsius kan styg. Die VN-verslag sê huidige beleid kan lei tot verwarming van ongeveer 2,6-grade Celsius. Wetenskaplikes waarsku enige verdere styging in temperatuur kan die gevaar van klimaatsverwante rampe verhoog. Hulle sê fossielbrandstof-uitstralings moet dringend verminder word, en die verwydering van koolstofdioksied kan help om temperature later dié eeu weer tot onder die drempel van 1,5-grade Celsius te laat daal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….