Nuus 13:00
BULLETIN 3 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit ondersoek Amazon se sakeprogram wat na bewering witmense uitsluit
# ‘n Kragtige El Niño dreig om Afrika se prysdruk te vererger
# En: George Clooney sê die mins bevoegde mense bestuur Trump se administrasie
# Die vakbond Solidariteit het ‘n ondersoek van stapel gestuur na die Amerikaanse onderneming Amazon oor bewerings dat ondernemings in Suid-Afrika op grond van die eienaars se ras uitgesluit word van ‘n sakeontwikkelingsprogram. Amazon Web Services se beleggingsprogram vir ekonomiese bemagtiging, wat gelyke deelname en insluiting bevorder, aanvaar volgens berigte slegs ondernemings in swart besit. Connie Mulder van Solidariteit beklemtoon ras behoort nie ‘n maatstaf vir ekonomiese geleenthede te wees nie:
# Die Foschini-groep het planne aangekondig om teen 2029 sowat 280 winkels reg oor Suid-Afrika, Brittanje en Australië te sluit na ‘n ernstige daling in wêreldwye kleinhandelbesteding. Die modereus, wat swaar getref is deur internasionale handelsmerk-verswakkings, waarsku dat sy verdienste per aandeel vir die volle jaar met tot 65-persent kan daal. Uitvoerende hoof Anthony Thunström sê die strategiese rasionalisering is ‘n noodsaaklike reaksie op volgehoue ekonomiese insinkings in sy primêre markte. Die sluitings sal hoofsaaklik winkels in onderpresterende gebiede raak.
# Die Instituut vir Internasionale Finansies sê Afrika het te kampe met ‘n moontlik ernstige El Niño te midde van ‘n swakker ekonomiese posisie as ‘n dekade terug. Hoër oliepryse, ‘n sterker Amerikaanse dollar en strenger befondsingsvoorwaardes plaas verdere druk op ekonomieë. Weervoorspellers waarsku die klimaatsverskynsel kan lei tot droogtetoestande in Suider-Afrika en oorstromings in die ooste, wat oeste kan beskadig en voedselpryse kan raak. Egipte, Zambië en Ethiopië word beskou as besonder kwesbaar. Suid-Afrika is moontlik meer voorbereid om die uitwerking te weerstaan ná ‘n rekord mielie-oes.
# Die bekroonde Amerikaanse akteur George Clooney het Donald Trump se administrasie beskryf as ‘n regering wat deur die mins bevoegde mense bestuur word. Hy het op die openingsdag van die Venesiese Rolprentfees gepraat, waar hy met ‘n Goue Leeu bekroon sal word vir sy loopbaanprestasie. Clooney sê hy bly optimisties en glo Amerika sal hierdie moeilike tydperk oorleef en uiteindelik terugkeer na ‘n mate van normaliteit:
# Tennis: Die Chinese gelukkige verloorder Bu Yunchaokete het die opkomende ster Rafael Jodar uitgeskakel in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope. Die nommer-124 op die wêreldranglys het die 12de-gekeurde Spanjaard in skoon stelle geklop in een van die grootste verrassings van die Grand Slam-toernooi tot dusver. Bu het in die kwalifiserende ronde verloor, maar na die hooftrekking deurgedring toe Thanasi Kokkinakis van Australië weens ‘n besering onttrek het. Hy speel nou teen die plaaslike speler Michael Zheng, wat die Hongaar Fábián Marozsán uitgeskakel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-783-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-432-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….