Nuus 09:00
BULLETIN 3 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering werk aan ‘n streng beleid van ’n nul-persent bloedalkohol-vlak
# Donald Trump se hernude poging om geboortereg-burgerskap te beperk, word gekeer
# En tennis: Die verdedigende kampioene Alcaraz en Sabalenka is deur na die derde ronde van die Amerikaanse Ope
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die regering wil die wettige bloedalkoholvlak van voertuigbestuurders na nul-persent verander in ‘n poging om padveiligheid te verbeter. Die wysigings sal aan Artikel 65 van die Nasionale Padverkeerswet gemaak word. Meer as 18-duisend mense is vanjaar tussen Maart en Augustus weens dronkbestuur in hegtenis geneem. Creecy sê haar departement wil teen 2030 die jaarlikse padsterftesyfer halveer, in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte.
# Eskom sê hy maak vordering met skoon steenkool, groen waterstof en ander tegnologieë in ʼn poging om bedryfsprestasie, nasionale energiesekerheid en ʼn verantwoordelike energieoordrag te verseker. Die kragverskaffer het gister die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, by sy fasiliteit vir navorsing, toetsing en ontwikkeling in Johannesburg ontvang. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hy bou aan die vermoë om op die lang duur betroubare, bekostigbare en mededingende elektrisiteit te lewer. Sy sê soos die elektrisiteitsektor ontwikkel, raak vernuwing al belangriker:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê onderrig en leer sal voortgaan ten spyte van die opskorting van die nasionale katalogus vir die grondslagfase van 2026. Die LUR vir Onderwys, Jaco Londt, sê skole sal steeds goedgekeurde leesmateriaal vir volgende jaar kan gebruik. Londt sê die Departement het ook ekstra leesbronne deur middel van sy terug-op-die-spoor-program verskaf:
# ‘n Amerikaanse federale regter het president Donald Trump se administrasie verhoed om sy uitvoerende mag te gebruik om geboortereg-burgerskap te beperk deur federale departemente te verbied om burgerskap aan kinders wat in Amerika gebore word, te gee. Die Hooggeregshof het in Junie Trump se aanvanklike poging om geboortereg burgerskap te beëindig voorkom met die verstandhouding dat enige iemand wat in Amerika gebore word ‘n burger word al is die kind se ouers nie burgers nie. Prokureur-generaal Todd Blanche het aan Fox News gesê hulle gaan appèl aanteken:
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie Carlos Alcaraz het nog ‘n tree nader gegee aan sy derde Amerikaanse Ope-titel deur Jaime Faria van Portugal te verslaan om na die derde ronde deur te dring. Die Spanjaard is terug is na vier maande se beseringsverlof. Daniil Medvedev van Rusland en die Amerikaners Ben Shelton en Frances Tiafoe het ook hul tweede-ronde-wedstryde gewen. In die vrouetrekking het die Belarus Aryna Sabalenka verby Polina Iatcenko van Rusland geskuif om die derde ronde te bereik. Die heersende Wimbledon-kampioen, Linda Noskova van Tsjeggië, het Lanlana Tararudee van Thailand verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar,18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-598-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-431-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….