Nuus 08:00
BULLETIN 3 September 8 vm
Goeiemôre
In die bulletin:
# Generaal-majoor Feroz Khan word afgedank deur die polisie
# Die ANC spreek sy volle vertroue in die OVK uit
# En gholf: Tiger Woods word vir vyf jaar verbied om te bestuur en kry ‘n boete
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het bevestig dat die adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, afgedank is. Dit volg na sy versuim om voor ‘n interne polisie-tugverhoor te verskyn in verband met bewerings van wangedrag. Die Arbeidshof het Maandag Khan se dringende aansoek verwerp om ʼn tugproses, wat hom sy werk kon kos, te keer. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê aangesien die saak deur verskeie regsprosesse gegaan het, sal die SAPD die howe se besluite respekteer en nakom:
# Die ANC het sy volle vertroue in die Verkiesingskommissie en sy integriteit uitgespreek. Die party hou vol tegniese probleme met die kommissie se kandidate-vasleggingstelsel het ʼn paar van sy kandidate vir die plaaslikeregeringsverkiesing se invoering op die stelsel geraak. Politieke partye en onafhanklike kandidate se benoemings moes teen vyfuur op 28 Augustus op die stelsel wees. Die kommissie sê egter sy stelsel het reg gewerk. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu het aan Newzroom Afrika gesê hulle glo hulle sal die probleem met die kommissie oplos:
# Die IVP eis ʼn deeglike ondersoek na die moord op sy KwaZulu-Natalse raadslid vir proposionele verteenwoordiging, Khethelo Mdluli. Hy is verlede week by sy huis in Gingindlovu geskiet en is Maandag aan sy beserings dood. Mdluli was sedert 2021 die IVP-raadslid in die uMlalazi-munisipaliteit en sou in die komende plaaslikeregeringsverkiesing die party se kandidaat vir Wyk 17 wees. Die IVP sê politieke geweld moet nooit toegelaat word om ʼn wapen in die land se demokrasie te word nie.
# Die Franse president, Emmanuel Macron, sê Brittanje en Frankryk is eensgesind wat Oekraïne, die Midde-Ooste en multilateralisme betref. Die twee lande beywer hulle vir Europese ondersteuning aan Kiëf sedert Rusland se volskaalse inval meer as vier jaar gelede. Macron en koning Charles het gister die Britse Museum besoek vir die amptelike opening van die Bayeux Tapisserie-uitstalling. Die Middeleeuse meesterstuk is ʼn eeue oue simbool van die verhouding tussen die Franse en Britte. Macron sê daar is nou vertroue tussen Parys en Londen:
# Gholf: Die vyftienmalige Major-kampioen Tiger Woods se bestuurslisensie is vir vyf jaar opgeskort na ‘n pleitooreenkoms bereik is in die saak van dronkbestuur teen hom. Die 50-jarige is in hegtenis geneem nadat hy in Maart in Florida met sy Land Rover by ‘n ongeluk betrokke was. Hy het ‘n asemtoets geslaag, maar geweier om ‘n urienetoets te doen en het onskuldig gepleit aan ‘n klag van dronkbestuur. In die pleitooreenkoms het Woods skuldig gepleit aan ‘n geringer klag van roekelose bestuur en weiering om ‘n onwettige toets te ondergaan. Hy is ook met sowat 16-duisend-rand beboet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-721-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-429-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….