Nuus 07:00
BULLETIN 3 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum dring aan op ‘n onafhanklike oudit van die brandstofprys en -heffing
# Malusi Gigaba van die ANC word verwyder as medevoorsitter van die Parlement se Verdedigingskomitee
# En rugby: Lienert-Brown sê die superfikse All Blacks kan die Bokke ore aansit in Johannesburg
# AfriForum het aan die minister van Finansies, Enoch Godongwana, geskryf en eis ‘n onafhanklike oudit van die brandstofprys en -heffing, insluitend die algemene brandstof-, koolstof- en Padongelukkefonds-heffing. Petrolpryse het hierdie maand met een-rand-34-sent per liter gestyg terwyl diesel tussen twee-rand-93-sent en drie-rand-15-sent per liter meer kos. Ernst van Zyl van AfriForum sê die tydelike verlaging van die algemene brandstofheffing moet permanent gemaak word, of ten minste heelwat langer duur as die 1 Julie-sperdatum:
# Sakevertroue is bestendiger, maar op ʼn vlak wat steeds te laag is om die groter belegging en groei in indiensneming wat Suid-Afrika nodig het, te ondersteun. Dit is volgens die jongste Sakevertroue-aanwyser wat deur die finansiëledienstefirma, RMB, en die Buro vir Ekonomiese Navorsing uitgegee is. Sakevertroue het in die derde kwartaal met ʼn punt tot 38 gedaal, wat die swakste is sedert 2024 se derde kwartaal. Isaah Mhlanga van RMB sê ʼn volgehoue verbetering vereis beter aanvraag-toestande, voortgesette hervorming, en groter sekerheid in die bedryfsomgewing, veral in plaaslike regering.
# Die parlementêre staande komitee oor Verdediging het Mzimasi Hala van die ANC as nuwe medevoorsitter verkies nadat Malusi Gigaba onverwags en sonder verduideliking uit die posisie verwyder is. Hala is met ses stemme teen twee verkies, terwyl die EFF buite stemming gebly het. Gigaba staar aanklagte van bedrog en korrupsie in die gesig wat verband hou met die Transnet-tender vir meer as een-duisend lokomotiewe wat die regering sowat 54-miljard-rand gekos het. Windy Plaatjies van die ANC sê die party hoef nie te verduidelik nie, want dis ʼn interne kwessie.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, was gister deel van nog ʼn polisie-geleide soek-en-beslagleggingsoperasie by ses skole. Dit bring die aantal skole in die provinsie wat deursoek is op 23 te staan. Gister se operasie was by die Sehopotso Secondary School en BoteboTsebo Secondary School in Sebokeng, Residentia Secondary School in Vanderbijlpark, Sapphire Secondary School in Bophelong, en Mahareng Secondary School en Lekoa Shandu Secondary School in Sharpeville. Maile sê hulle het in die jongste operasie op 123 verbode items beslag gelê:
# Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie se sekretaris-generaal, Mark Rutte, waarsku dat Rusland al roekeloser raak terwyl sy oorlog teen Oekraïne voortduur. Hy sê NAVO sien meer Russiese hommeltuie en missiele in bondgenote se lugruim langs die oostelike flank, wat ʼn groter gevaar vir Europa se veiligheid skep. Dit volg nadat Duitsland vasgestel het dat Moskou verlede maand verantwoordelik was vir ʼn mislukte hommeltuigaanval op die Leipzig-lughawe. Die hommeltuig het na bewering ʼn Oekraïnse vragvliegtuig geteiken. Rutte sê dis duidelik watter gevare Rusland inhou:
# Rugby: Veteraan All Blacks-senter Anton Lienert-Brown glo hul tempo kan die Springbokke Saterdag laat les opsê in die laaste minute van die eerste en tweede helfte van die derde toets op die FNB-stadion in Johannesburg. Hy sê hulle is ongelooflik fiks, soos bewys is toe hulle Suid-Afrika in die tweede helftes van beide die vorige twee wedstryde geklop het. Lienert-Brown speel in sy 93ste toets en glo Johannesburg se hoogte bo seespieël sal tot hul voordeel wees. Die All Blacks kom vandag in die Goudstad aan, wat hulle genoeg tyd gee om die klimaatsverandering te verwerk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-300-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-401-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 97-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….