Nuus 18:00
BULLETIN 2 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 142-duisend kandidate ding mee om munisipale setels
# Die Taxi Alliance is versigtig oor die tariefaanpassings ná die brandstofprysverhoging
# En, sokker: Die Afrika Mayibuye-beweging verwelkom Pitso Mosimane se aanstelling as die Bafana Bafana-afrigter
# Die Verkiesingskommissie sê meer as 142-duisend kandidate is benoem om vanjaar mee te ding vir die tien-duisend-526 setels in die plaaslike regeringsverkiesing. Dit is 43-persent meer as tydens die 2021-verkiesing, toe sowat 99-duisend benoemings ontvang is. Nagenoeg twee-derdes van die kandidate is mans, terwyl vroue ongeveer 38-persent verteenwoordig. Die voorsitter van die OVK, Mosotho Moepya, het op ‘n nuuskonferensie gesê die finale lys kandidate sal na verwagting op 16 September bekend gemaak word:
# Die Nasional Taxi-alliansie sê bespiegelings oor taxi-tariefverhogings na aanleiding van die jongste brandstofprysverhoging is voortydig. Petrolpryse het met een-rand-34-sent per liter gestyg, terwyl diesel tussen twee-rand-93 sent en drie-rand-14 sent duurder is, afhangende van die graad. NTA-woordvoerder Theo Malele sê die verhogings het die taxibedryf ‘n groot knou toegedien. Hy sê tariefaanpassings moet deeglik oorweeg word en waarsku hoër tariewe kan passasiers wegdryf. Bedryfsleiers vergader binnekort om die impak te bepaal.
# Die kommissaris van die Madlanga-kommissie, Sandile Khumalo, het die voormalige hoof van die Valke, Godfrey Lebeya uitgedaag oor sy reaksie op berigte van ‘n klopjag by sakeman Katiso “KT” Molefe se huis. Khumalo het bevraagteken of daar enige werklike gevaar was nadat hulle bepaal het die mense op die toneel was werklike polisielede.. Hy sê die sakeman en Lebeya se informant, Malcolm X, het nie verdagtes of gevaarlike gedrag aangemeld nie. Lebeya het aangevoer sy siening was anders:
# Estland se Parlement het die grondwetkenner en menseregte-ombud Ülle Madise tot volgende president verkies. Die 51-jarige was onbestrede nadat geen ander kandidaat genoeg parlementêre steun gekry het nie. Madise is sedert 2015 die menseregte-ombud en sal vir ‘n termyn van vyf jaar dien. Sy volg Alar Karis op, wat nie ’n tweede termyn nagestreef het nie. Madise word slegs die tweede vrou wat Estland se grotendeels seremoniële presidentskap beklee. Rusland se buurland is een van die sterkste ondersteuners van Oekraïne binne die Europese Unie en NAVO.
# Sokker: Die Afrika Mayibuye-beweging verwelkom die aanstelling van Pitso Mosimane as Bafana Bafana se nuwe hoofafrigter. Die 62-jarige neem oor by Hugo Broos en was vanaf Julie 2010 tot Junie 2012 ook die nasionale afrigter. Die beweging sê Mosimane is een van Afrika se voorste afrigters en sy terugkeer na Bafana Bafana bied ‘n geleentheid om voort te bou op die vordering wat die nasionale span reeds gemaak het. Die beweging voeg by Mosimane se aanstelling kan ‘n nuwe era van sokkerontwikkeling in Suid-Afrika inlui wat geslagte van tegnies vaardige en internasionaal mededingende spelers oplewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-291-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-338-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….