Nuus 14:00
BULLETIN 2 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Hoëkommissaris Sooklal is vrygespreek rakende Zuma se besoek aan die Guptas in Indië
# Die Stad Johannesburg stel die omstrede Lesiba Malotana aan as hoof van Openbare Veiligheid
# En krieket: Ben Stokes speel vir Adelaide Strikers in die Big Bash-liga
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het Suid-Afrika se hoëkommissaris in Indië, Anil Sooklal, van enige skuld onthef nadat oudpresident Jacob Zuma die Guptas in Junie in die Asiese land besoek het. Die ondersoek is ingestel na berigte dat Sooklal gehelp het om die ontmoeting tussen Zuma en die Gupta-broers te reël. Die departement sê Sooklal het binne die perke van sy mandaat opgetree en protokol gevolg. Hy sê die ondersoek het geen bewyse gevind dat hy die besoek bemiddel het of vooraf bewus was daarvan nie.
# Die Internasionale Handelsadministrasie-kommissie in Suid-Afrika en China se Buro vir Ondersoeke na Handelsmaatreëls het ‘n samewerkingsooreenkoms hernu. Die raamwerk dek maatreëls om plaaslike nywerhede te beskerm, terwyl die uitruiling van inligting, deursigtigheid en tegniese samewerking versterk word. Die raamwerk ondersteun ook pogings om moontlike ontduiking van handelsmaatreëls te identifiseer. Die kommissie sê die hernude ooreenkoms is ‘n bywerking van die raamwerk wat oorspronklik in 2006 ingestel is, wat bande tussen die twee lande versterk en regverdige, deursigtige en reëlgebaseerde internasionale handel bevorder.
# Die Stad Johannesburg het Lesiba Arnold Malotana as die nuwe hoof van die Departement van Openbare Veiligheid aangestel ná ‘n omvattende werwings-, keurings- en beoordelingsproses. Die voormalige hoof van die Gautengse Gesondheidsdepartement se aanstelling is egter omstrede nadat ‘n leefstyloudit deur die Spesiale Ondersoekeenheid hom as ‘n hoërisiko-persoon geklassifiseer het. Die metro se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê Malotana beskik oor meer as 20 jaar ervaring:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, sê dit gaan 12,3-miljoen-rand kos om die vloedskade in die Bontebok-nasionale park in die Wes-Kaap te herstel. Hy sê erge skade is aangerig aan sommige van die reservaat se chalets, piekniek-terreine en toegangspaaie na blyplekke toe die Breërivier in Mei afgekom het:
# Krieket: Die voormalige Engelse kaptein, Ben Stokes, sal van Desember vir Adelaide Strikers speel in Australië se Big Bash-liga. Hy het in Junie uit die internasionale spel getree. Stokes sal volgens berigte teen 5,76-miljoen-rand een van die duurste spelers in die T20-liga word. Adelaide word afgerig deur die voormalige Australiese kaptein Tim Paine, wat Stokes beskryf as een van die beste veelsydige spelers ooit, ‘n erkende wedstrydwenner en ‘n mededinger wat onder druk floreer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-619-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-310-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….