Nuus 09:00
BULLETIN 2 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Goldman Sachs-groep verwag Suid-Afrika sal teen 2028 na beleggingsgraad terugkeer
# Gauteng kies 18 aspirant-dokters uit benadeelde gemeenskappe om medies in Kuba te studeer
# En krieket: Maphaka glo hy sal Rabada se plek kan volstaan in die eendagwedstryde teen Australië
# Die Goldman Sachs-groep meen Suid-Afrika kan sy beleggingstatus reeds in 2028 herwin, namate graderingsmaatskappye die land se verbeterende finansies en ekonomiese groei beloon. Volgens die ontleding kan die regering se tienjaar-opbrengs in plaaslike geldeenheid moontlik met meer as 100 basispunte tot 7,6-persent daal. Goldman-ekonoom Andrew Matheny sê die groep verwag beter fiskale dinamika, stewiger groei en ‘n sterker beleidsagtergrond om kredietopgraderings oor die volgende jaar te dryf. S&P Global Ratings en Moody’s Ratings het Suid-Afrika op twee kerwe onder beleggingsgraad, met positiewe vooruitsigte.
# ActionSA sê die Parlement se besluit om die aanbeveling van advokaat Thandazani Madonsela as getuienisleier te herroep, is ‘n klassieke voorbeeld van Stalingrad-vertragingstaktieke. President Cyril Ramaphosa het beswaar gemaak teen Madonsela se aanstelling en moontlike botsing van belange aangevoer, insluitend dat hy voorheen regsadvies oor die ampsklagproses aan die ANC gegee het. ActionSA-woordvoerder Lerato Ngobeni sê prosedurele regverdigheid mag nie nou prosedurele oneindigheid word nie en waarsku die Parlement verruil moontlik een dooiepunt vir ʼn ander:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het 18 jongmense uit arm gemeenskappe in die provinsie gekies om deur die Nelson Mandela Fidel Castro Mediese Opleidingsprogram medies in Kuba te studeer. Die groep is uit twee-duisend-480 aansoekers aangewys ná ʼn mededingende werwingsproses wat in Mei 2025 begin het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die Kubaanse model vir mediese opleiding plaas klem op basiese gesondheidsorg, siekte-voorkoming en bevordering van gesondheid, wat ooreenstem met Suid-Afrika se gesondheidsorg-voorkeure:
# Duitsland het ʼn reeks nuwe maatreëls teen Rusland aangekondig nadat hy Moskou beskuldig het van verlede maand se hommeltuigaanval op die Leipzig/Halle-lughawe. ʼn Hommeltuig met plofstof is in ʼn beveiligde gebied van die lughawe naby ʼn Oekraïnse vragvliegtuig gevind wat gebruik is om militêre voorrade te vervoer. Dit het vermoedelik weens ʼn foutiewe slagdop egter nie ontplof nie. Duitsland se minister van Buitelandse Sake het opdrag gegee dat die Russiese konsulaat in Bonn, en die Russiese Huis, ʼn kultuursentrum in Berlyn, gesluit word. Die land verskerp ook beheer oor Russiese burgers.
# Krieket: Die jong Proteas-snelbouler Kwena Maphaka glo hy sal Kagiso Rabada se rol in hierdie maand se tuis-eendagreeks teen Australië kan vul. Rabada is weens ‘n besering uitgesluit en sal nie terugkeer voor volgende maand se toetsreeks teen die Aussies nie. Die twintigjarige Maphaka sê hy is vol vertroue in sy vermoëns nadat hy die boulaanval vir die Leeus en Suid-Afrika onder-19 gelei het. Die eendagreeks teen Australië begin op die 24ste in Durban, en die eerste van drie toetse begin op 9 Oktober, ook in Durban.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-369-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-304-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….