Nuus 08:00
BULLETIN 2 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vergader met die Internasionale Komitee van die Rooikruis
# Die EFF verwerp die herroeping van Madonsela se aanstelling as getuienisleier
# En die VSA en Iran val mekaar weer aan met vier slagoffers in Teheran
# President Cyril Ramaphosa het gister die president van die Internasionale Komitee van die Rooikruis, Mirjana Spoljaric, in Pretoria ontmoet, vir gesprekke oor die bevordering van respek vir internasionale humanitêre reg en oorlogsreëls. Suid-Afrika is een van die ses stigterslande van die Globale Internasionale Humanitêre Regsinisiatief, wat 118 state insluit, waaronder 27 Afrikalande. Spoljaric sê met meer as een derde van gewapende konflikte wat in Afrika plaasvind, hoop sy meer lande sal verenig rondom ‘n gedeelde verbintenis om menslikheid tydens oorloë te bewaar.
# Die EFF het heftig kritiek gelewer op die onttrekking van advokaat Thandazani Madonsela se aanstelling as getuienisleier van die Ampsklagkomitee. Madonsela se aanbeveling is herroep te midde van ‘n regshersiening van president Cyril Ramaphosa se beswaar in verband met die Phala Phala-skandaal. Die Ampsklagkomitee se 31 lede van 16 politieke partye het tot Vrydag geleentheid om nog benoemings vir ʼn getuienisleier in te dien. Omphile Maotwe van die EFF sê die lys beskikbare kandidate moet uitgebrei word:
# Die Regspraktykraad het ten sterkste ontken dat die omstrede Malesela Teffo wat van die advokate-rol geskrap is, weer tot die regsberoep toegelaat is. Dit volg na Teffo se onverwagse verskyning by die Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg tydens die sakeman, Vusimusi “Cat” Matlala, en sy vier medebeskuldigdes se poging-tot-moord-verhoor. Teffo hou vol hy is op goeie voet met die raad. Die Regspraktykraad se Gautengse direkteur, Ignatius Briel, het aan die SABC gesê hulle het nou ʼn lasbrief vir Teffo se inhegtenisneming gekry:
# Die Amerikaanse weermag het nuwe lugaanvalle op Iranse teikens uitgevoer. Vier mense, insluitend ʼn vierjarige kind, is volgens berigte dood en meer as 50 beseer. Amerika se Sentrale Bevel sê die aanvalle volg na onlangse pogings van die Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps om handelskepe in die Straat van Hormoes aan te val. Teheran het uit weerwraak Amerikaanse belange in Bahrein, Koeweit, Jordanië en Irak aangeval. Iran sê hoe meer die Amerikaanse leër volhou met aggressie in die streek, hoe meer verliese sal hy moet verduur.
# Tennis: Gael Monfils het sy 40ste verjaardag in styl gevier met ‘n oorwinning oor Adolfo Daniel Vallejo van Paraguay. Die Fransman wat aan die einde van die seisoen wil uittree, is nou deur na die tweede ronde van die Amerikaanse Ope plaas. Die vyfde gekeurde Italianer Flavio Cobolli het Francisco Comesana van Argentinië in vyf stelle geklop. In die vroue-afdeling het Elena Rybakina van Kazakstan, wat hoop op die wêreld-nommer-een-plek, die Amerikaanse promotorskeuse Thea Frodin uitgeskakel en na die tweede ronde deurgedring. Die Amerikaners Coco Gauff en Madison Keys het ook gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-524-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-291-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….