Nuus 17:00
BULLETIN 1 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se ampsklagkomitee het sy benoeming van advokaat Thandazani Madonsela as getuienisleier, herroep
# Statistiek SA sê huisbrake raak meer as een-miljoen huishoudings
# En, die voorsitter van die Madlanga-kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga beslis Feroz Khan se mediese toestand moet bekend gemaak word
# Die Parlement se ampsklagkomitee het sy benoeming van advokaat Thandazani Madonsela as getuienisleier herroep. Die komitee is gereed om president Cyril Ramaphosa te ondersoek oor die Phala Phala-saga. Die ANC en die Patriotiese Alliansie se verteenwoordigers het aangevoer daar bestaan ‘n persepsie dat Madonsela bevooroordeeld was, soos Ramaphosa vroeër gesê het, terwyl ander partye die voorstel teengestaan het. Die mosie is met 18 stemme teen nege aanvaar. Die sekretaris van die Parlement stel die getuinenisleier aan na die komitee se benoeming.
# Meer as 1,5-miljoen huisbrake is in die 2025/2026-boekjaar aangeteken, met meer as een-miljoen huishoudings wat geraak is. Die opname toon diefstal van persoonlike besittings was die algemeenste misdaad en het sowat 1,2-miljoen mense geraak met rooftogte op straat die tweede algemeenste. Risenga Maluleke van Statistiek Suid-Afrika sê die verslag toon slegs 38-persent van mense voel veilig genoeg om snags alleen in hul woonbuurte te stap, vergeleke met 81-persent gedurende die dag:
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, afgetrede regter Mbuyiseli Madlanga, het beslis die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, generaal-majoor Feroz Khan, se mediese toestand moet bekend gemaak word. Die kommissie het teruggedateerde mediese verslae ondersoek wat ingedien is om Khan se afwesigheid vandag by die kommissie te verduidelik. Madlanga sê ‘n uitspraak soortgelyk aan dié rakende die sakeman van Noordwes, Sulliman Carrim, sal van toepassing wees. Madlanga sê ook daar is tans onvoldoende bewyse om ‘n onafhanklike mediese ondersoek te gelas:
# Die voormalige Britse premier, sir Keir Starmer gaan as parlementslid vir Holborn en St Pancras bedank, wat tot ‘n tussenverkiesing in die Londense kiesafdeling sal lei. Starmer sê hy het besluit dit is die regte tyd om die parlement na elf jaar as parlementslid te verlaat. Hy sal nou fokus op internasionale sake, insluitend verdediging, sekerheid, handel en tegnologie. Starmer beplan ook om sy werk voort te sit om geweld teen vroue en meisies te beveg. Hy het Downingstraat in Julie verlaat en is deur Andy Burnham opgevolg.
# Sokker: Die African Restoration Bank het ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof ingedien om die plaaslike sokker beheerliggaam, SAFA, se verkiesingskongres wat vir 12 September geskeduleer is, te stop. Die ARB-president Vuyisile Charles Ndabeni wil hê die Hof moet die verkiesings verbied totdat bestuurskwessies opgelos is. Die aansoek vra vir die openbaarmaking van SAFA se grondwet, wysigings, verkiesingskode en kandidaatlyste, en bevraagteken of die wysigings behoorlik aangeneem is. Ndabeni sê hulle versoek sakeredding indien dit van toepassing is, alternatiewe bestuursverligting en ook ‘n forensiese ondersoek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-730-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-332-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 94-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….