Nuus 16:00
BULLETIN 1 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom sê die sterker rand kan nie die wêreldwye styging in brandstofpryse teenwerk nie
# Die Federasie van Skoolbeheerliggame steun strenger reëls vir WhatsApp-boodskappe tussen onderwysers en leerders
# En sokker: Pitso Mosimane moet nog Bafana se hulpafrigter finaliseer
# ‘n Ekonoom van KPMG Suid-Afrika sê ‘n sterker rand sal nie die skerp styging in wêreldwye brandstofpryse in September teenwerk nie. Frank Blackmore sê die onderverhaling vir 95-oktaan petrol is een-rand-ses-sent per-liter en vir 93-oktaan staan dit op 96 sent. Die onderverhaling vir diesel is twee-rand-71- en twee-rand-92-sent. Hy sê al het die rand van 16-rand-90 tot 16-rand teen die Amerikaanse dollar versterk, het brandstofpryse skerp gestyg weens die Russies-Oekraïnse oorlog:
# Vier Suid-Afrikaanse bedryfsorganisasies is bekommerd oor berigte dat ses Chinese ondernemings beplan om vervaardigingsaanlegte in Gauteng te vestig. Die ondernemings sal na verwagting transformators en kragmaste vir die Nasionale Transmissiemaatskappy se uitbreidingsprogram vervaardig. Die Kraglyn- en Substasievereniging van Suid-Afrika, Manufacturing Circle, die Staal- en Ingenieursbedrywe van Suid-Afrika en die Vereniging van Elektriese Kabelvervaardigers sê die land beskik reeds oor gevestigde vervaardigers en voorsieningskettings. Hul waarsku bestaande plaaslike vervaardigingsvermoë behoort voorkeur te geniet.
# Die Departement van Basiese Onderwys berei riglyne voor om grense te stel vir boodskappe tussen onderwysers en leerders op WhatsApp en sosiale media om onvanpaste verhoudings te voorkom. Die adjunk-uitvoerende hoof van die Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame, Riaan van der Bergh, sê die probleem is gedrag en nie tegnologie nie. Hy sê net reëls sal nie onetiese gedrag stopsit nie en waarsku privaat WhatsApp-gesprekke kan gevaarlik wees. Groepgesprekke maak groter deursigtigheid en beter toesig moontlik. Hy stel formele platforms, gesprekke wat tot skoolure beperk word en ouerbetrokkenheid voor.
# Sokker: Die pas-aangestelde hoofafrigter van Bafana Bafana, Pitso Mosimane, sê sy tegniese span is nog nie volledig nie, met nog ‘n hulpafrigter wat aangestel moet word. Mosimane het in SAFA-huis bevestig dat Kabelo Rangoaga en Musi Matlaba lede van sy tegniese personeel is. Hy sê kandidate word noukeurig oorweeg om seker te maak die regte persoon word op nasionale spanvlak aangestel. Mosimane sê die proses duur voort:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-729-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-357-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku die huidige El Niño-weerpatroon, wat moontlik die sterkste nóg kan word, sal waarskynlik van Oktober tot Januarie ondergemiddelde reënvalpatrone en bogemiddelde temperature veroorsaak. Die woordvoerder, Hannelee Doubell, sê die verskynsel, saam met aardverwarming, kan 2027 die warmste jaar nóg maak. Sy sê hittegolwe kan besonder erg wees indien droë toestande voortduur. Die Stille Oseaan-see-oppervlaktemperature sal waarskynlik meer as drie grade Celsius bo normale vlakke styg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….