Nuus 12:00
BULLETIN 1 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie verdaag vanaf Donderdag
# Rugby: Erasmus is gefrustreerd oor die gesprek rondom Springbok-skrums
# En Lionel Richie laat hom as voorsorgmaatreël in die hospitaal opneem
# Die Madlanga-kommissie, wat misdaad, korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek, sal van Donderdag verdaag tot 11 September. Openbare verhore sal Woensdag eindig en op 14 September hervat. Die verposing van sewe werksdae is nodig om twee kommissarisse toe te laat om ander verpligtinge na te kom. Woordvoerder Jeremy Michaels sê personeellede sal tydens die reses aanhou werk om voor te berei vir die volgende ronde openbare verhore:
# Die vakbond GIWUSA is erg bekommerd oor môre se brandstofprysverhogings. Die Departement van Minerale en Petroleumbronne het aangekondig die petrolprys styg om middernag met een rand-34 sent per liter. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê selfs erger is die gedifferensieerde groothandelprysverhogings van twee rand-94 sent en drie rand-15 sent per liter vir diesel, afhangend van die swaelinhoud. Hy sê dis ‘n regstreekse aanval op die voortbestaan van werkers en armes:
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal ná verlede week se verwoestende kits-oorstromings op die grens tussen Nepal en Tibet het meer as ‘n duisend bereik. Die getal vermistes is aangepas na drie-duisend-916, insluitend meer as 600 werkers wat vermoedelik in moddergevulde tonnels in hidrokragprojekte vasgekeer is. Minstens 16 mense is in die Chinees-beheerde Tibet dood en minstens 546 word vermis. Nepal se eerste minister, Balendra Shah, sê die rampe wat tans ervaar word, is weens klimaatsverandering en verg dringend aandag.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy is gefrustreerd deur die All Blacks se aanhoudende pogings om skeidsregters deur middel van die media te beïnvloed. Dit volg nadat Nieu-Seeland se afrigter, Dave Rennie, na die tweede toets in Kaapstad gekla het oor die Bokke se skrumtegniek. Hy beweer die Suid-Afrikaners loop rondom hul teenstanders in die skrum. Erasmus sê hy vertrou die metodes van die Bokke se skrumafrigter, Daan Human:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-938-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-386-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse musieklegende Lionel Richie het homself volgens berigte in ‘n hospitaal laat opneem as voorsorgmaatreël ná die naweek se optrede in St Louis. Die 77-jarige Grammy-wenner was tydens die konsert duiselig en ontwater. Dit volg meer as twee maande nadat Richie ook op die verhoog duiselig was tydens die openingsaand van sy toer saam met Earth, Wind and Fire in Minnesota. Hy tree na verwagting weer die 26ste van die maand in San Francisco op.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….