Nuus 08:00
BULLETIN 1 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die motorbedryf is van kritieke belang vir die ekonomie
# Julius Malema moet regter Keoagile Matojane verskoning vra
# En AfriForum vra vir ‘n formele vennootskap tussen die polisie en buurtwagte
# President Cyril Ramaphosa sê die motorbedryf is noodsaaklik vir die regering se pogings om die ekonomie te laat groei, meer uit te voer, beleggings te lok en werk te skep. Hy het gisteraand die hoofrede gelewer by die Volkswagen Groep in Afrika se 75ste Gala-dinee in Kariega in die Oos-Kaap. Volkswagen se aanleg in Kariega het die afgelope 75 jaar byna 40 verskillende modelle vervaardig en meer as 4,8-miljoen voertuie gebou. Ramaphosa sê Volkswagen se voortgesette belegging in die land is bemoedigend:
# EFF-leier Julius Malema het ingestem om Appèlhof-regter Keoagile Matojane in die Parlement verskoning te vra. Die parlementêre Etiekkomitee het bevind hy het die Etiese Gedragskode oortree toe hy die regter oor ‘n persoonlike saak by die Regterlike Dienskommissie bevraagteken het. Tydens die Regterlike Dienskommissie se onderhoude in 2021 vir aanstellings in die Appèlhof, het Malema vir Matojane gevra oor sy beslissing dat die EFF die gewese minister van Finansies, Trevor Manuel, 500-duisend-rand moes betaal. Malema het die uitspraak in die Wes-Kaapse Hooggeregshof betwis, maar die hof het sy aansoek verwerp.
# AfriForum sê die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, se erkenning dat gemeenskappe ‘n onontbeerlike rol speel in die bekamping van misdaad, moet nou omskep word in ‘n formele vennootskap tussen die SAPD en buurtwagte. Die jongste misdaadstatistiek toon dat hoewel die moordsyfer in die eerste kwartaal van die 2026/2027 finansiële jaar met 5,9-persent gedaal het, is vyfduisend-427 mense binne slegs drie maande vermoor. Jacques Broodryk van AfriForum sê gemeenskappe moet nie net as ‘n hulpbron tydens groot operasies beskou word nie:
# ʼn Jurie in Las Vegas het Duane “Keffe D” Davis skuldig bevind aan die moord op Tupac Shakur, byna 30 jaar nadat die beroemde kletsrymer doodgeskiet is. Shakur is op 7 September talle kere geskiet tydens ʼn verbyry-skietery in Las Vegas en is dae later dood. Aanklaers beskuldig die 63-jarige Davis dat hy die aanval beplan en die vuurwapen voorsien het. Hy is die enigste persoon wat van die moord aangekla is. Davis kan moontlik lewenslank tronk toe gaan sonder parool.
# Tennis: Die sewemalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, het die verdediging van sy titel met ʼn oorwinning begin toe hy die Rus, Roman Safiullin, verslaan het. Die Spanjaard het weens beserings in April laas in enkelspel-wedstryde meegeding. Die Switser, Stan Wawrinka, het die laaste Amerikaanse Ope-wedstryd van sy loopbaan gespeel nadat hy in die openingsrondte teen die Italianer, Matteo Berrettini, verloor het. In die vroueafdeling het die verdedigende kampioen van Belarus, Aryna Sabalenka, met die Colombiaan, Camila Osorio, afgereken. Verlede jaar se naaswenner, die Amerikaner Amanda Anisimova, het haar landgenoot Ashlyn Krueger geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-389-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-431-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….