Nuus 14:00
BULLETIN 31 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Beskuldigde in die Tembisa-hospitaal-plunderingsaak word vrygelaat op borgtog van 200-duisend-rand
# ‘n Valke-offisier beweer Mchunu het hom opdrag gegee om Mkhwanazi te betrek
# En rugby: Rassie verander sy voorry vir die derde toets teen die All Blacks
# ‘n Sewe-en-dertigjarige beskuldigde wat verbind word met die beweerde plundering van 635-miljoen-rand in die Tembisa-hospitaal in Gauteng, is borgtog van 200-duisend-rand toegestaan in die Handelsmisdaadhof in Palm Ridge. Stefan Govindraju is Vrydag op die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem nadat hy van die buiteland teruggekeer het. Hy staan tereg op aanklag van geldwassery, bedrog en korrupsie. Die Spesiale Ondersoekeenheid beweer Govindraju en twee ander sakemanne, Hangwani Maumela en Rudolph Mazibuko, het meer as twee-miljard-rand geplunder. Hulle het na bewering bestellings van aankope verdeel om verkrygingsdrempels te omseil.
# Oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki het hulle Konstitusionele Hof-aansoek verloor om regter Sisi Khampepe te dwing om te onttrek as voorsitter van die ondersoek na Waarheids- en Versoeningskommissie-sake. Zuma en Mbeki het aangevoer Khampepe se vorige WVK- en vervolgingsrolle maak haar partydig. Die hof het haar besluit bekragtig om nie te onttrek nie, en die oudpresidente moet nou voor die kommissie getuig. Regter Leona Theron het die uitspraak gelewer:
# ‘n Valke-offisier van KwaZulu-Natal, Deena Govender, beweer die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, het hom beveel om provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, te betrek by meer as 172 skietvoorvalle in die provinsie. Govender het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het Mchunu se stem herken tydens ‘n telefoongesprek. Hy sê Mchunu het hom aangesê om te beweer Mkhwanazi het opdrag gegee vir die skietvoorvalle:
# Die DA in die Wes-Kaap sê die suksesvolle inperking van die bek-en-klouseer-uitbreking in die provinsie bewys hoe ‘n benadering wat die hele samelewing betrek, biosekerheids-bedreigings vinnig kan stop en die landbou-ekonomie kan beskerm. Die provinsie het nou 82-persent van sy beeskudde van byna ‘n half-miljoen primêre en versterkingsdosisse toegedien. Privaat veeartse het 75,8-persent van die dosisse toegedien. Noko Masipa van die DA sê hierdie bedryf-sukses is behaal ondanks nasionale beperkings:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het klein veranderings aan sy beginspan gemaak vir Saterdag se derde toets teen die All Blacks op die FNB-stadion in Johannesburg. Die voorry Ox Nché, Malcolm Marx en Wilco Louw keer terug na die beginspan terwyl Gerhard Steenekamp, Deon Fourie en Thomas du Toit na die bank verskuif. Cheslin Kolbe skuif na heelagter in die plek van die beseerde Damian Willemse, met Kurt-Lee Arendse wat op vleuel uitdraf. Erasmus verwag Nieu-Seeland sal hard terugveg nadat Suid-Afrika die toetsreeks Saterdag in Kaapstad gelykop gemaak het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-488-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-450-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….