Nuus 13:00
BULLETIN 31 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof verwerp Zuma en Mbeki se aansoek vir regter Khampepe se onttrekking
# Die DA-leier sê die ANC gaan polities agteruit en klou aan ‘n kaderstaat as ‘n reddingsboei
# En tennis: Roger Federer word ingehuldig in die heldesaal
# Oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki het hulle Konstitusionele Hof-aansoek verloor om regter Sisi Khampepe te dwing om te onttrek as voorsitter van die ondersoek na Waarheids- en Versoeningskommissie-sake. Zuma en Mbeki het aangevoer Khampepe se vorige WVK- en vervolgingsrolle maak haar partydig. Die hof het haar besluit bekragtig om nie te onttrek nie, en die oudpresidente moet nou voor die kommissie getuig. Regter Leona Theron het die uitspraak gelewer:
# DA-leier Geordin Hill-Lewis kritiseer president Cyril Ramaphosa oor sy uitlating in die ANC se verkiesingsmanifes dat ANC-bestuurde munisipaliteite ‘n voordeel inhou omdat burgemeesters hulle tot kamerade in die nasionale regering kan wend. Hy sê dit strook nie met die werklikheid of die gees van die regering van nasionale eenheid nie. Hill-Lewis sê Ramaphosa vra Suid-Afrikaners om vir die ANC te stem bloot omdat sy kamerade reeds posisies in die staat beklee:
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, het Molatelo Mashola aangestel as nuwe burgemeesterskomiteelid vir Nutsdienste in die plek van Frans Boshielo. Moya se woordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê Mashola was die raad se hoofsweep, wat politieke leierskap vereis het terwyl hy in al die bestuurstrukture gewerk het. Hy sê die Nutsdienste-portefeulje is baie belangrik omdat dit toesig hou oor sommige van die mees basiese dienste wat Tshwane bied, insluitend water en elektrisiteit.
# Tennis: Die Switserse meester Roger Federer sê sy inhuldiging in die heldesaal is een van die grootste eerbewyse van sy lewe. Die 20-malige Grand Slam-kampioen het die eerbetoon emosioneel aanvaar tydens ‘n seremonie in Rhode Island, Amerika. Hy het sy beroepsloopbaan in 1998 op 16-jarige ouderdom begin en uiteindelik agt Wimbledon-enkelspeltitels ingepalm, asook ses keer die Australiese Ope, vyf keer die Amerikaanse Ope en in 2009 die Franse Ope gewen. Federer sê roem was nooit sy doelwit nie, maar eerder om te doen waarvoor hy lief is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-12-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-643-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-442-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-30-sent per vat.
# En ten slotte: Vrouemaand eindig vandag en Inyathelo vereer die buitengewone vroueleiers, aktiviste en maatskaplike werkers wat die ruggraat van Suid-Afrika se burgerlike samelewing vorm. Suid-Afrika se sektor vir organisasies sonder winsbejag bestaan uit bykans 300-duisend geregistreerde organisasies, met vroue wat na raming tussen 65- en 70-persent van die arbeidsmag vorm. Feryal Domingo van Inyathelo sê die werk wat hulle in gemeenskappe verrig, kom nie 1 September tot stilstand nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….