Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 31 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die spanne in die halfeindronde van die Curriebeker-kompetisie is bepaal. Griekwas het ‘n oortuigende oorwinning van 45-17 oor die Boland Kavaliers in Wellington in die Wes-Kaap behaal en só hul hoop op die halfeindronde beëindig. Die verdedigende kampioen het Cheetahs daarmee bo-aan die punteleer vervang en pak die vierde-geplaaste Leeus Saterdag in Kimberley. In die ander halfeindstryd sal die tweede-geplaaste Cheetahs die derde-geplaaste Pumas in Bloemfontein verwelkom. Die eindstryd is volgende naweek.
Krieket: Die Protea-snelbouler, Kagiso Rabada, is in ‘n wedloop teen tyd gewikkel om betyds fiks te wees vir die tuisreeks van drie toetse teen Australië in Oktober. Hy het sy regter-agterkniesening beseer tydens oefening vir sy plaaslike span, die Lions. Rabada is reeds onttrek van die eendagreeks teen Australië, wat volgende maand begin. Krieket Suid-Afrika sê sy beskikbaarheid vir die toetsreeks sal afhang van sy vordering en rehabilitasie en ‘n finale besluit oor sy insluiting sal nader aan die tyd geneem word.
# Gholf: Die viermalige major-kampioen Scottie Scheffler het sy tweede FedEx-bekertitel in drie jaar beklink op die East Lake-klub in Atlanta vir sy 22ste PGA-toertitel. Die wêreld-nommer-een se 16-onder was drie houe beter as dié van die Noorweër Viktor Hovland. Die Amerikaanse nuweling Ryan Gerard was derde. Scheffler, Rory McIlroy en Tiger Woods is die enigste meermalige FedEx-bekerkampioene. Hy sê dis ‘n goeie gevoel om regdeur die seisoen toernooie te wen:
# Tennis: Mariano Navone van Argentinië het die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, uitgeskakel in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope. Die Serwiër het in vyf stelle verloor teen die wêreld-nommer-49 – die eerste keer sedert 2006 dat hy in die openingsronde van ‘n Grand Slam-toernooi vasval. 2021 se kampioen, Daniil Medvedev van Rusland, het die Franse kwalifiseerder Hugo Gaston geklop. Die Amerikaanse vrou Jessica Pegula het in skoon stelle afgereken met Elena-Gabriela Ruse van Roemenië. Elina Svitolina van Oekraïne en die Italianer Jasmine Paolini het ook gewen.
En laastens, nog tennisnuus: Die Switserse meester Roger Federer sê sy inhuldiging in die heldesaal is een van die grootste eerbewyse van sy lewe. Die 20-malige Grand Slam-kampioen het die eerbetoon emosioneel aanvaar tydens ‘n seremonie in Rhode Island, Amerika. Hy het sy beroepsloopbaan in 1998 op 16-jarige ouderdom begin en uiteindelik agt Wimbledon-enkelspeltitels ingepalm, asook ses keer die Australiese Ope, vyf keer die Amerikaanse Ope en in 2009 die Franse Ope gewen. Federer sê roem was nooit sy doelwit nie, maar eerder om te doen waarvoor hy lief is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….