Nuus 12:00
BULLETIN 31 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier sê die ANC gaan polities agteruit en klou aan ‘n kaderstaat as ‘n reddingsboei
# ‘n Vermeende baasbrein van onwettige mynbedrywighede is deur die polisie doodgeskiet in Carletonville
# En Airlink verdedig sy lae oorvlug oor die Kaapstadse stadion voor die tweede toets
# DA-leier Geordin Hill-Lewis kritiseer president Cyril Ramaphosa oor sy uitlating in die ANC se verkiesingsmanifes dat ANC-bestuurde munisipaliteite ‘n voordeel inhou omdat burgemeesters hulle tot kamerade in die nasionale regering kan wend. Hy sê dit strook nie met die werklikheid of die gees van die regering van nasionale eenheid nie. Hill-Lewis sê Ramaphosa vra Suid-Afrikaners om vir die ANC te stem bloot omdat sy kamerade reeds posisies in die staat beklee:
# Ramaphosa en die voorsitter van Eskom se raad, Mteto Nyati, het vergader om Suid-Afrika se verbintenis tot energiehervorming te herbevestig. Hervormings is noodsaaklik om bekostigbare, betroubare en volhoubare elektrisiteitsvoorsiening te verseker. Nyati het vroeër gewaarsku regeringsplanne oor eienaarskap van Eskom kan die onderneming se finansies benadeel en beleggers afskrik. Woordvoerder Vincent Magwenya sê Eskom se herstrukturerings-taakspan sal die vestiging van ‘n ten volle onafhanklike transmissie-stelseloperateur bestuur:
# Die polisie se Nasionale Ingrypings-eenheid het ‘n gesoekte vermeende baasbrein agter onwettige mynbedrywighede doodgeskiet tydens ʼn opsporingsoperasie in Carletonville, Gauteng. Lede van die eenheid is na ʼn huis waar die verdagte vermoedelik geskuil het. Nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die verdagte het op die polisie losgebrand, wat hulle gedwing het om terug te skiet. Sy sê daar is beslag gelê op ʼn AK-47-geweer en 125 rondes ammunisie:
# Airlink verdedig sy formasievlugte oor die Kaapstadse stadion voor Saterdag se tweede toets tussen die Springbokke en die All Blacks. Die lugdiens sê geen lugvaart-veiligheidsregulasies is oortree nie, ondanks kommer op sosiale media omdat die vliegtuie buitengewoon laag gevlieg het. Airlink sê die verbyvlug het deeglike beplanning en oefening vereis onder toesig van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid en Navigasiedienste. Die lugdiens sê vlugdata bevestig die vliegtuie het binne die goedgekeurde veiligheidshoogte- en spoedgrense gebly.
# Tennis: Mariano Navone van Argentinië het die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, uitgeskakel in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope. Die Serwiër het in vyf stelle verloor teen die wêreld-nommer-49 – die eerste keer sedert 2006 dat hy in die openingsronde van ‘n Grand Slam-toernooi vasval. 2021 se kampioen, Daniil Medvedev van Rusland, het die Franse kwalifiseerder Hugo Gaston geklop. Die Amerikaanse vrou Jessica Pegula het in skoon stelle afgereken met Elena-Gabriela Ruse van Roemenië. Elina Svitolina van Oekraïne en die Italianer Jasmine Paolini het ook gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-967-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-437-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….