Nuus 09:00
BULLETIN 31 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Posbank vra die laaste SASSA-begunstigdes om na swart kaarte oor te skakel
# Meer as twee-duisend Ford Rangers word herroep weens kommer oor ‘n foutiewe lugsak
# En, minstens 15 mense is vermis na ‘n oorstroming in Grand Canyon
# Dis vandag die laaste dag waarop ontvangers van toelaes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid se goue kaarte kan oorskakel na die Posbank se swart kaarte. Meer as 80-persent van die oorskakelings is reeds voor vandag se sperdatum afgehandel. Die Posbank-woordvoerder, Bongani Diako, sê die oorgang is ondersteun deur omvattende operasionele voorbereidings en ‘n openbare bewusmakingsveldtog om seker te maak begunstigdes verstaan die verandering en die belangrikheid om binne die vasgestelde tyd oor te skakel:
# Die Ford Motor-maatskappy in Suid-Afrika het aangekondig dat hy twee-duisend-275 dubbelkajuit-bakkies wat in 2026–2027 vervaardig, en tussen 22 Mei en 23 Junie vanjaar verkoop is, herroep. Dit volg nadat ʼn moontlike probleem met die voertuie se sygordyn-lugsakstelsel geïdentifiseer is. Dit is ook van toepassing op voertuie wat na Namibië, Botswana, Lesotho en Eswatini uitgevoer is. Die Nasionale Verbruikerskommissie se woordvoerder, Phetho Ntaba, sê die betrokke lugsakke kan moontlik met die B-stut se afwerking kontak maak en nie ontplooi soos dit moet nie:
# Die ANC in die Groter Johannesburg-streek het kommer uitgespreek oor die Sunday World-artikel met die opskrif, “Mbalula halts ANC’s Morero showdown”, en sê dis misleidend. Die artikel beweer sekretaris-generaal Fikile Mbalula het die provinsiale leierskap opdrag gegee om verlede week sy beplande inligtingsessie te kanselleer. Dit volg na Johannesburg-burgemeester, Dada Morero, se uitbarsting vol gekruide taal teenoor ʼn inwoner van Tshepisong. Die ANC sê die artikel probeer ʼn narratief van verdeeldheid in die party skep terwyl die organisasie daarop fokus om kiesers se ondersteuning te herbou in aanloop tot die verkiesing.
# Minstens 15 mense word vermis ná ʼn onverwagse oorstroming gister in die Grand Canyon Nasionale Park in Arizona. Twee-en-sestig stappers en kampeerders is per helikopter na veiligheid geneem. Die Nasionale Park-diens waarsku donderstorms en swaar reën word ook vir vandag voorspel, wat tot nog kitsvloede, rommel, rotsstortings en veranderde voetslaanpad- en riviertoestande kan lei. Die Grand Canyon, een van die gewildste nasionale parke in die Verenigde State, het verlede maand meer as 400-duisend besoekers ontvang.
# Gholf: Die viermalige major-kampioen Scottie Scheffler het sy tweede FedEx-bekertitel in drie jaar by die East Lake Gholfklub in Atlanta gewen vir sy 22ste PGA-toertitel. Die wêreld-nommer-een het op 16 onder syfer klaargemaak, drie houe voor die Noorweër Viktor Hovland, wat ‘n laaste rondte van 72 aangeteken het. Die Amerikaanse nuweling Ryan Gerard het derde geëindig. Scheffler sluit by Rory McIlroy en Tiger Woods aan as die enigste meermalige FedEx-bekerkampioene. Hy sê dis ‘n goeie gevoel om van agter te kom en regdeur die seisoen toernooie te kan wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-481-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-414-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….