Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig na aanleiding van die vrystelling van die polisie se misdaadstatistiek, is die Kaapstadse bendes en vuurwapens wat algemeen beskikbaar is, verantwoordelik vir die steeds hoë moordsyfer in die land. Die koerant skryf kenners waarsku dat die laer moordsyfer wat gerapporteer is, steeds ver bo die nasionale gemiddeld bly.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n voornemende burgemeesterskandidaat van die ANC, Kgoši Maepa, is in die moeilikheid nadat hy ‘n vervalste video-opname van DA-verteenwoordigers in die Ekurhuleni-metro wat sogenaamde korrupte praktye bespreek, versprei het.
En tweedens skryf die webblad die meesterbrein agter ‘n groep zama-zamas is in Carletonville doodgeskiet toe hy ‘n AK47 op die polisie gerig het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, generaal-majoor Feroz Khan, is weer in ‘n Johannesburgse hospitaal opgeneem, enkele dae voordat hy voor die Madlanga-kommissie moes verskyn. Hy is op 28 Junie ernstig gewond in ‘n vermeende sluipmoordaanval.
# Sowetan:
Berig oor die gruverhaal van ‘n 11-jarige seun van die Sinqobile Primary School in Soshanguve wat in ‘n toilet by die skool deur vier ouer leerders aangeval en besny is.
# En The Citizen:
Lei met: “METRES FROM DISASTER?” Die koerant skryf oor die debat in sosiale media oor die verbyvlug van twee Airlink-stralers voor die Springbokke en All Blacks se kragmeting in Kaapstad Saterdag.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens die ma van een van die Suid-Afrikaners wat in Nepal vermis word, die 33-jarige Terricia Govender, sê sy glo haar dogter is lewend. Linda sê haar dogter is sterk, energiek en doelgerig.
En tweedens skryf die koerant die lugredery Airlink sê Saterdag se verbyvlug by die DHL-stadion in Kaapstad was met die Burgerlugvaartowerheid se goedkeuring en op goedgekeurde hoogtes.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die gemeenskap van Chatty in Nelson Mandelabaai is bekommerd oor die hoë geslagsgeweldsyfer in die gebied.
En tweedens skryf die koerant Yvette Georgiou en haar seun Philip is in Kariega in hegtenis geneem in verband met diefstal en saakbeskadiging.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die probleme by die Tatham-kunsgalley in Pietermaritzburg duur steeds voort. Dis vir die publiek gesluit weens ernstige waterskade nadat ‘n pomp in die kelder onklaar geraak het. Die dak het ook verskeie lekplekke.
En tweedens word berig volgens ‘n omgewingsverslag is die luggehalte in Pietermaritzburg veilig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig veldbrande het sedert Junie reeds meer as 100-duisend-hektaar weiding in die Erongostreek verwoes. Die koerant skryf niemand is nog vir brandstiging in hegtenis geneem nie.
Tweedens skryf die koerant die saak teen ’n Swakopmundse psigiater wat van verkragting en onsedelike aanranding beskuldig is, is finaal van die rol geskrap.
En laastens is daar nuus oor die Creative.Sport.Tourism-uitstalling wat van 2 – 4 September by die Hage Geingob-rugbystadion in Windhoek aangebied word.