Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Slegte nuus vir motoriste oor die brandstofpryse
# Rise Mzansi se Gautengse premierskandidaat beloof om sleutelkwessies aan te pak
# En, krieket: Australië verpletter die Windies in die eendagreeks
# Petrol- en dieselpryse styg om middernag. Dit volg op skerp prysdalings die afgelope maande. Die prys van loodvrye petrol van albei oktane styg met 75-sent per liter, en die groothandelprys van diesel tussen 70- en 73-sent. Die groothandelprys van lampolie word met 53-sent per liter verhoog, en die maksimum kleinhandelprys van vloeibare gas styg met 37-sent per liter. Suid-Afrikaanse brandstofpryse word hoofsaaklik bepaal deur internasionale oliepryse en die randwisselkoers, omdat olie in dollar verkoop word.
# Rise Mzansi se nasionale voorsitter, Vuyiswa Ramokgopa, het amptelik haar kandidaatskap vir die Gautengse premier in die komende verkiesing verklaar. Haar veldtog is bekend gestel in Joubertpark, Braamfontein en Ramokgopa het haar diep bande met die provinsie beklemtoon terwyl sy ernstige kommer oor die huidige toestand van sake uitgespreek het. Haar veldtog fokus op verantwoordelike besteding vir verbeterde munisipale dienste, teenkorrupsiemaatreëls, die herlewing van onderwys, gesondheidsorg en ruimtelike beplanning om ‘n welvarende en gelyke Gauteng te skep:
# Die Departement van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelngsbeplanning van die Wes-Kaap is daadwerklik besig om noodsaaklike dienste te koördineer en te beplan in reaksie op langdurige elektrisiteitsonderbrekings in dele van die Sentraal-Karoo. Die LUR van die departement, Anton Bredell, sê die Provinsiale Rampbestuursentrum fokus veral op die verskaffing van noodsaaklike dienste, insluitende drinkwater en afvalwaterstelsels, in die betrokke gemeenskappe. Volgens Bredell is hulle daartoe verbind om werkende openbare dienste gedurende ‘n onderbreking te onderhou, soos hospitale en skole:
# Krieket: Australië het skoonskip gemaak in die eendagreeks teen die Windies deur die besoekers met agt paaltjies te klop in die derde wedstryd in Canberra. Die Windies is in die 25ste beurt vir net 86 uitgehaal. Xavier Bartlett het vier paaltjies geneem en Alick Athanaze se 32 was die hoogste telling. Australië het daarop die teiken binne sewe boulbeurte aangeteken met twee paaltjies plat. Die twee spanne slaan nou oor na T20’s, met die eerste van drie kragmetings wat Vrydag in Hobart plaasvind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-701-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-24-sent per vat.
# Ten slotte: Die Keniaanse president, William Ruto, het aangekondig alle vlae in die land sal halfstok hang ter ere van die ontslape Namibiese president, Hage Geingob, wat Sondag gesterf het. Ruto het die 82-jarige beskryf as iemand wat geglo het in ‘n verenigde Afrika en ‘n sterk voorstander van die vasteland se stem en sigbaarheid op die globale verhoog was. Ruto het Geingob as ‘n visioenêre leier geloof. Die voormalige Keniaanse president, Uhuru Kenyatta, sê Geingob was ‘n man van wysheid en kennis wat met nederigheid en grasie gelei het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….