Nuus 09:00
BULLETIN 30 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê pogings word aangewend om die polisiediens te versterk
# Die Niger-junta sê ‘n muitery is afgeweer
# En rugby: Rassie kap terug na Rennie na die Bokke se oorwinning
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê pogings word aangewend om die polisiediens in die land te versterk. Polisiemisdaadstatistieke het ‘n afname in ernstige kontakmisdaad aangeteken gedurende die eerste kwartaal van die 2026/2027-boekjaar. Ramaphosa het tydens die ANC-verkiesingsveldtog in Orlando-Wes, Soweto gister, aan die media gesê Suid-Afrikaners moet die polisie erkenning gee vir die afname in misdaadvlakke:
# Eskom sê Suid-Afrika se kragvoorsiening versterk steeds namate sy opwekkingsvloot volgehoue strukturele en operasionele verbeterings lewer. Eskom se Energiebeskikbaarheidsfaktor vir die jaar tot nou het tot 67,87-persent gestyg, die hoogste vlak sedert 2020. Die nutsmaaskappy se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê gemiddelde onbeplande onderbrekings is met ses-duisend-873 megawatt oor die afgelope drie jaar van 16-duisend-130 megawatt tot negeduisend-257 megawatt verminder:
# Cosatu doen ‘n beroep op die Departement van Werkskepping en Arbeid en die Nasionale Tesourie om die werwing van die beloofde tienduisend arbeidsinspekteurs te bespoedig. Die Federasie is diep bekommerd oor die vertragings in die regering se nakoming van hierdie progressiewe verbintenis wat deur president Cyril Ramaphosa in die Staatsrede in Februarie vanjaar aangekondig is. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê dit is ‘n reuse-onderneming wat aansienlike finansiële toewysing vereis, voortbouend op die Departement se huidige tweeduisend-392 arbeidsinspekteurs en ‘n totale departementele personeelgetal van tienduisend:
# Niger se militêre regering sê hy het beheer oor sleutelterreine in die hoofstad, Niamey, herwin nadat muitende soldate die lughawe en presidensiële paleis aangeval het. Tientalle soldate is volgens berigte dood of in hegtenis geneem ná ure se geweervuur en ontploffings. Die staatstelevisie, wat vlugtig onderbreek is, het later beeldmateriaal van troepe in aanhouding uitgesaai. Die regering sê die situasie is nou kalm, hoewel die lot van die militêre leier, generaal Abdourahamane Tiani, steeds onduidelik is. Die muitery is die jongste uitdaging vir die junta, wat na ‘n staatsgreep in 2023 die regering oorgeneem het.
# En sportnuus:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het Nieu-Seeland se verbetering geprys, maar teruggekap na die All Blacks-afrigter Dave Rennie nadat hy gekla het oor Suid-Afrika se skrumwerk. Erasmus sê dis die eerste keer dat die Springbokke beskuldig word dat hulle “rondloop” in die skrum. Hy sê daar was verskeie kompstamp-voorvalle met die All Blacks waaroor Suid-Afrika nie gekla het nie. Hy het Rennie se afrigting geprys en gesê Nieu-Seeland is nou op ‘n ander vlak as verlede jaar. Die oorwinning van 33-26 in Kaapstad het die reeks gelyk gemaak op een-elk.
# En ten slotte krieket: Dewald Brevis het ‘n onoorwonne 75 lopies van slegs 32 balle gemoker in Suid-Afrika se oorwinning met sewe paaltjies oor Zimbabwe in die T20-driehoekreeks in Windhoek. Zimbabwe het 144 vir agt aangeteken nadat die Proteas se draaiboulers, gelei deur kaptein Bjorn Fortuin en Prenelan Subrayen, hulle gekniehalter het. Brevis het Suid-Afrika in die 14de boulbeurt tot ‘n oorwinning gelei, met nog 38 balle oor. Sy beurt het sewe viere en ses sesse ingesluit. Die oorwinning plaas Suid-Afrika weer op koers na hul nederlaag teen Namibië.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….