Nuus 11:00
BULLETIN 29 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU vra verligting met brandstofpryse wat weer styg
# Die Wes-Kaapse regering verwelkom minder moorde, maar waarsku geweld is steeds ‘n groot kopseer
# En Nepal staar massiewe heropbou-koste in die gesig na die vernietigende vloede
# COSATU doen ‘n beroep op dringende maatreëls om werkers en die ekonomie te beskerm teen die skerp brandstofprysstygings wat volgende week verwag word. Petrol sal na verwagting met tot een-rand-sewe-sent per liter styg, terwyl diesel met soveel as twee-rand-92-sent kan styg. Die vakbondfederasie sê die verhogings sal verdere druk op huishoudings plaas wat reeds met hoë vervoerkoste en lewenskoste sukkel. Hy waarsku werkers bestee reeds ‘n aansienlike deel van hul inkomste om werk toe te gaan, terwyl hoër brandstofkoste bydra tot druk op die breër ekonomie.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die afname verwelkom in moorde wat gedurende die eerste kwartaal van die 2026/2027-boekjaar in die provinsie aangeteken is. Die jongste kwartaallikse polisiemisdaadstatistiek toon moorde het met 6,7-persent in die provinsie afgeneem van een-duisend-148 gevalle tussen April en Junie 2025, tot een-duisend-71 gevalle in dieselfde tydperk in die huidige boekjaar. Die premier sê moorde in die gekombineerde ses ontplooiingsgebiede wat deel is van die Wetstoepassing-bevorderingsplan, het met 17-persent afgeneem:
Die DA in Gauteng sê intussen premier Panyaza Lesufi het misluk om ernstige geweldsmisdade in die provinsie te bekamp. Volgens polisie-misdaadstatistiek bly Gauteng die land se grootste bydraer tot ontvoering, met ‘n verstommende 51-persent van alle aangemelde ontvoeringsake landwyd tussen April en Junie vanjaar, terwyl een-duisend-772 poging-tot-moord-sake aangemeld is. Crezane Bosch van die DA sê die syfers ontbloot verder die voortdurende bedreiging waarmee inwoners in hul gemeenskappe te doen het:
En na die buiteland:
# Nepal gaan tussen 65-miljard en 81-miljard-rand benodig om die land te herbou na dié week se verwoestende vloede op sy grens met China. Die land se minister van Finansies, Swarnim Wagle, het aan Reuters gesê die skatting is voorlopig, met amptenare wat steeds die volle omvang van die skade beraam. Die vloede het huise en kritieke infrastruktuur vernietig, insluitend paaie, brûe en hidro-elektriese kragsentrales. Wagle sê die regering sal internasionale steun vir die heropboupoging benodig en beplan ‘n groot fondsinsamelingsveldtog. Reddings- en noodlenigingsoperasies duur voort, terwyl owerhede die ekonomiese impak van die ramp evalueer.
En nou sportnuus:
# Rugby: Die Stormers het met die oog op die 262222/27-seisoen kontrakverlengings met sleutelspelers gesluit, onder ander nege Verenigde Rugbykampioenskap-wenners wat by die blou en wit aanbly. Ruhan Nel, Deon Fourie, Seabelo Senatla, Leolin Zas, Marcel Theunissen, Hacjivah Dayimani, Warrick Gelant, Adré Smith en JJ Kotzé, is almal titelwenners in die 22/23-seisoen en het hul kontrakte hernu. Die junior spelers, Springbok-stut Zachary Porthen, loskopstut Vernon Matongo en senter Josh Boulle wat deur die Stormers Rugby-stelsel gekom het, het ook verlengings onderteken.
Ten slotte: Gholf: Jean Hugo het sy 22ste Sonskyn-toertitel ingepalm na hy die Sunbet Challenge op die Wild Coast Sun-baan met een hou gewen het. Die 50-jarige het ‘n finale ronde van 65 voltooi om agt-onderbaansyfer te eindig met Nikhil Rama tweede op sewe-onder. Hugo het die finale ronde in die gesamentlike 11de plek begin, maar drie voëltjies oor die eerste nege putjies en nog drie op die laaste nege het aan hom die oorwinning besorg. Dit plaas hom onder die vyf topspelers vir Sonskyn-toer-oorwinnings. Dit is sy eerste titel sedert hy ‘n senior beroepspeler geword het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….