Nuus 09:00
BULLETIN 29 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi sê die afname in moorde verdoesel ‘n toename in geslagsgeweld en genormaliseerde gepeupelreg
# Die MK-party verwelkom die SOE-bevindings oor die Nkandla-verbeterings
# En, tennis: Carlos Alcaraz vol vertroue voor sy terugkeer na die VSA Ope
# RISE Mzansi is krities oor onlangse polisiemisdaadstatistiek en voer aan die aangemelde afname in kontakmisdade skep ‘n vals gevoel van sekuriteit terwyl die toenemende krisis van geslagsgeweld in die land geïgnoreer word. Drie-honderd-en-vyf mense is van April tot Junie vanjaar vermoor as ‘n direkte gevolg van gepeupelreg. Makashule Gana van RISE Mzansi sê geslagsgeweld is verantwoordelik vir ‘n verstommende 95,8-persent van alle geverifieerde nege-duisend-201 verkragtingsake:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, doen ‘n beroep op strenger optrede teen ongelisensieerde drankwinkels, aangesien alkohol landwyd ‘n sterk dryfveer vir geweldsmisdaad is. Cachalia het die media ingelig oor die jongste misdaadstatistiek tussen April en Junie en sê geweld vind dikwels snags en oor naweke plaas, veral rondom drankwinkels. Hy sê sterker afdwinging van die drankwette en munisipale verordeninge is nodig om moorde en ernstige aanrandings te verminder:
# Die MK-party sê die Spesiale Ondersoekeenheid se bevindings oor die verbeterings aan oudpresident Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal, laat vrae ontstaan oor wie verantwoordelik gehou moet word vir die koste van die projek. Die sekretaris-generaal van die party, Sibonelo Nomvalo, sê die SOE se bevinding dat die betrokke argitek 156-miljoen-rand aan die staat moet betaal, is teenstrydig met die weergawe dat slegs Zuma verantwoordelik is vir die terugbetaling van geld wat verband hou met die opgraderings:
# Geweervuur en ontploffings is vroeg vanoggend in verskeie dele van Niger se hoofstad, Niamey, aangemeld. Reuters-getuies het geweervuur en ontploffings in die stad beskryf, maar daar was geen amptelike verklaring oor die oorsaak of enige ongevalle nie. Niger is onder militêre bewind sedert ‘n staatsgreep in Julie 2023 wat president Mohamed Bazoum uit die kussings gelig het. Die regering, gelei deur generaal Abdourahamane Tiani, het homself sedertdien van Westerse bondgenote gedistansieer en bande met Rusland versterk, saam met die naburige militêre geleide Mali en Burkina Faso.
# Tennis: Carlos Alcaraz sê hy voel goed oor sy polsgewrig voor sy Amerikaanse Ope-titelverdediging, hoewel die Spanjaard erken hy is angstig oor sy terugkeer na enkelspelwedstryde, ná ‘n afwesigheid van vier maande. Die 23-jarige is sedert April buite aksie met ‘n regterpolsbesering en het die Franse Ope en Wimbledon misgeloop. Alcaraz sê intensiewe oefensessies het hom gerusgestel dat die pols gereed is vir kompetisie. Hy erken die groter uitdaging kan geestelik wees en sê hy moet sy ondersteuningspan vertrou en enige vrees laat gaan. Die verdedigende kampioen se eerste wedstryd is Sondag teen Roman Safiullin.
En nog nuus van die Amerikaanse Ope: Die wêreld-nommer-een Aryna Sabalenka sê sy is steeds vol vertroue om ‘n derde agtereenvolgende -titel in New York te verower. Die kampioen van Belarus het sedert Maart nog nie ‘n toernooi gewen nie en is vroeg reeds by die Franse Ope, Wimbledon, Kanadese Ope en Cincinnati uitgeskakel. Sabalenka sê ondanks die insinkings, het sy die terugslae gebruik om haar geestesingesteldheid te versterk en glo dis net ‘n kwessie van tyd voordat sy weer op haar beste sal wees. ‘n Derde agtereenvolgende titel sal haar op dieselfde vlak as legendes soos Chris Evert en Serena Williams plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….