Nuus 08:00
BULLETIN 29 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party stel sy veldtog vir die 2026 plaaslike regeringsverkiesing bekend
# Suid-Afrika dien sy Gaza-dossier by die Internasionale Geregshof in
# En rugby: Die Leeus vertrap die Stormers en is nader aan die halfeindronde van die Curriebeker
# Die MK-party het sy voorbereidings vir die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November verskerp met die bekendstelling van sy ‘Let Us Return to the People‘-veldtog. Volgens die party het meer as 300-duisend nuwe lede sedert Junie aangesluit. Sibonelo Nomvalo van die party het aan die media gesê die party het ‘n verkiesingsentrum in Johannesburg opgerig om uitslae te monitor en op moontlike onreëlmatighede tydens die verkiesing te reageer:
# Suid-Afrika het ‘n dossier by die Internasionale Geregshof ingedien waarin Israel beskuldig word dat hy nie voldoen het aan die Hof se wetlik bindende bevele wat daarop gemik is om Palestyne in Gaza teen volksmoord te beskerm nie. Die Departement van Internasionale Betrekkinge sê die dossier is Dinsdag ingedien om regters te help wat Israel se nakoming van die maatreëls monitor. Meer as 73-duisend Palestyne is sedert Oktober 2023 in Gaza dood en 174-duisend beseer. Pretoria sê Israel gaan voort om Palestyne van noodsaaklike dienste te ontneem en die beskermingsdoel van die Hof se bevele te ondermyn.
# Twaalf SAPD-lede is in Limpopo beseer en ‘n onbekende motoris is dood na ‘n botsing gisteraand op die N1 naby die Astron-vulstasie in Limpopo. ‘n Polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba sê die ongeluk het gebeur toe die motoris in ‘n noordelike rigting op die N1 uit sy laan beweeg en teen ‘n polisie minibus gebots het:
# Die Amerikaanse president het ‘n groot olie-ooreenkoms tussen sy land en Venezuela aangekondig, met Washington wat meerderheidsbeheer kry meer as 65-miljard vate van Venezuela se bewese oliereserwes. Trump sê die ooreenkoms, wat deur ‘n vennootskap met privaat maatskappye bereik is, sal die Amerikaanse oliereserwes meer as verdubbel en help om brandstofpryse te verlaag. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, sê dit kan byna 100-miljard-dollar in private beleggings lok en help om Venezuela se ekonomie te herbou. Die volledige struktuur van die ooreenkoms is nog nie bekend gemaak nie, en regsvrae bly oor die implementering daarvan.
# Rugby: Die Leeus-15 het na die derde plek op die Curriebeker punteleer opgeskuif na ‘n oortuigende oorwinning van 36-12 oor die Stormers-23 by Ellis Park. Die Johannesburgse span het vyf drieë gedruk en ‘n bonuspunt verseker, maar hul plek in die halfeindronde is nog nie gewaarborg nie. Die Leeus moet nou wag vir die naweek se oorblywende uitslae om te sien of hul seisoen tot by die laaste vier sal voortduur. Die Stormers het intussen nog ‘n swaar nederlaag gely soos hul veldtog sy einde nader.
En ons bly by Curriebebeker-rugby: Tino Mavesere het vier drieë vir die Haaie-15 gedruk om die Bulle met 53-22 op Kingspark in Durban kaf te draf. Die Zimbabwiese internasionale speler het in die vyfde, 12de, 32ste en 66ste minute drieë gedruk terwyl die Sharks-15 nege drieë ingeryg het om ‘n bonuspunt te verseker en sodoende met 18 punte na die vierde plek op die punteleer op te skuif. Die uitslag hou hul Curriebeker-halfeindstrydhoop lewend, alhoewel hulle nou moet wag vir die naweek se ander wedstryde. Die Bulle het die ligafase sonder ‘n oorwinning afgesluit en al sewe hul wedstryde verloor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….