Nuus 07:00
BULLETIN 29 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# GIWUSA sê getuienis by die Madlanga-kommissie onthul die impak van misdaadsindikate op die regstelsel
# Die polisie berei voor vir ‘n veilige verkiesing
# En, DIRCO gebruik sy missies in China om die vermiste Suid-Afrikaners in Nepal te vind
# Die vakbond GIWUSA sê getuienis wat by die Madlanga-kommissie na vore gekom het, benadruk die diep indringing van georganiseerde misdaadsindikate in Suid-Afrika se regs- en wetstoepassingstelsels. Sedert die Kommissie verlede jaar met sy werk begin het, het dit diepgewortelde korrupsie, politieke inmenging en misdadige infiltrasie blootgelê. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê polisie-samespanning met misdaadsindikate is nou goed gedokumenteer:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê wetstoepassingsagentskappe sal werk om ‘n veilige en beskermde omgewing te verseker voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Cachalia het aan die media gesê politieke geweld, insluitend aanvalle op raadslede en ander politieke verteenwoordigers, bedreig demokratiese deelname. Hy sê die polisie sal sulke gevalle ondersoek en met belanghebbendes saamwerk om kiesers, politieke partye en gemeenskappe te beskerm, en te verseker dat die verkiesing vry en regverdig is:
# Die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala gaan weer saam met die geskorste nasionale kommissaris van Polisie Fannie Masemola en verskeie senior polisiebeamptes in die Pretoriase Landdroshof verskyn, vir die beweerde onreëlmatige toekenning van die Medicare24 Tshwane-distriktender van 228-miljoen-rand aan Matlala. Die woordvoerder van die NVG, Henry Mamothame, sê Matlala se terugkeer volg nadat hy hom aan ‘n pleit- en vonnisooreenkoms onttrek het. Hy word nou terugverplaas na die Streekhof, waar hy by 14 ander beskuldigdes en twee maatskappye sal aansluit.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking werk deur Suid-Afrika se diplomatieke missies in China om ses Suid-Afrikaners op te spoor wat in Nepal vermis word. Die ses, wat vermoedelik uit KwaZulu-Natal kom, is onbereikbaar sedert dodelike kitsvloede Woensdag die Bhote Koshi-riviergebied naby die Tibetaanse grens getref het. Ntshavheni sê DIRCO bly in kontak met die families en die owerhede:
Reddingspanne in Nepal het intussen begin met ‘n vierde dag van hulle soektog na oorlewendes. Minstens 584 mense is dood en byna twee-duisend-500 word steeds vermis, insluitend meer as 500 buitelanders. Baie van hulle was op die Kailash Mansarovar-pelgrimstog. Die syfers verander vinnig met Nepalese en Chinese owerhede wat verskillende syfers rapporteer. Reddingsoperasies is ook belemmer deur die bedreiging van nog ‘n vloed uit ‘n onbestendige, nuutgevormde meer stroomop. Owerhede monitor die meer terwyl spanne voortgaan om na oorlewendes te soek.
# En ten slotte krieket: Namibië het Suid-Afrika met 18 lopies geklop in die openingswedstryd van die T20-driehoekige reeks in Windhoek. Die gashere het 163 vir nege aangeteken, met die aanvangskolwer Jan Frylinck wat 60 van 38 balle gemoker het. Dewald Brevis het die meeste lopies vir die Proteas aangeteken met 75 van 50 aflewerings, maar Suid-Afrika het momentum verloor en op 145 vir agt geëindig. Ruben Trumpelmann van Namibië het drie paaltjies laat spat, terwyl JJ Smit ook drie laat kantel het. Die Proteas pak Zimbabwe vandag in hul volgende wedstryd, terwyl Namibië Sondag teen Zimbabwe te staan kom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….