Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: ‘n Held in die Springbokke se Wêreldbekerwenspan van 1995, Joel Stransky, en die voormalige All Black-legende Zinzan Brooke is in Wêreldrugby se heldesaal opgeneem. Nog vyf name sal vroeg in September aangekondig word om die klas van 2026 te voltooi. Stransky het al Suid-Afrika se punte aangeteken in die Springbokke se geskiedkundige oorwinning van 15-12 oor Nieu-Seeland in ’95 se eindstryd. Wêreldrugby se voorsitter, Brett Robinson, sê Stransky se naam sal altyd verbind word met een van rugby se kragtigste en mees verenigende oomblikke.
Die Springbokstut Thomas du Toit sê intussen hulle is vasbeslote om die foute van verlede week se eerste toets teen die All Blacks reg te stel in môre se tweede kragmeting in Kaapstad. Suid-Afrika het op Ellispark 33-16 verloor en moet môre wen om die reeks te kan beklink. Du Toit, wat die wedstryd op die bank begin, sê elkeen sal sy bes doen om die beste wedstryd moontlik te speel:
# Krieket Suid-Afrika het die plaaslike 2026/27-seisoen met ‘n herstruktureerde kompetisieformaat begin. Die grootste verandering is die bekendstelling van die Pro20-beker wat die voormalige T20-uitdaging en die T20-uitklop-kompetisies in ʼn enkele premier-kompetisie saamvoeg. Die uitgebreide Pro20 sal bestaan uit 16 spanne van Afdeling 1 en Afdeling 2, en ʼn Suid-Afrikaanse opkomende span. Die Eendag-beker se nuwe naam is Pro50. Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Pholetsi Moseki, sê die herstruktureerde kompetisies skep ʼn duidelike en verenigde identiteit.
# Sokker: UEFA maak volgens berigte gereed om ʼn strafregtelike saak teen FIFA se president, Gianni Infantino, aanhangig te maak oor sy poging om aandele in die Wêreldbekertoernooi aan privaat beleggers te verkoop. Infantino het voorgestel ʼn nuwe maatskappy, FIFA Forward Enterprise, word gestig wat aandele in kompetisies aan privaat beleggers verkoop. Die plan is ná wydverspreide teenkanting laat vaar. UEFA beskuldig Infantino in hofdokumente van misdadige wanbestuur en sê sy voorstel was ʼn manier om wins te maak uit FIFA se waardevolste bates tot nadeel van die organisasie.
# En padwedlope: Die marathon-wêreldrekordhouer, Sabastian Sawe, het onttrek aan volgende maand se Berlynse marathon in die Duitse hoofstad. Die 31-jarige Keniaan het die grens van twee-uur in April verpletter toe hy die Londense marathon gewen het in een-uur-59-minute-30-sekondes. Berlyn sou sy eerste kompetisie sedertdien gewees het, en hy het uitgesien na die baie plat roete wat dit ‘n gunstelingwedren vir potensiële rekords maak. Sawe ervaar strawwe kompetisie van die Ethiopiër Yomif Kejelcha, wat die enigste ander man is wat ‘n marathon in minder as twee uur voltooi het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….