Nuus 11:00
BULLETIN 28 Augustus 11 vm
Goeiemôre Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê ‘n ondersoek kan rekenskap gee van alle diesel, maar identifiseer tekortkominge in bestuur
# Tshwane se stadsraad besluit om nie dissiplinêr teen die stadsbestuurder Johann Mettler op te tree nie
# En rugby: Thomas du Toit sê die Bokke is vasbeslote om in Kaapstad terug te bons
# Eskom sê hy het die onafhanklike regs-assessering, diesel-aanpassing, en verifiëringsprosesse van sy ondersoek na dieselverkryging- en bergingskontrakte afgehandel. Die ondersoek was na kontrakte van ‘n geraamde 21-miljard-rand wat in 2024 toegeken is. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die onafhanklike prosesse het geen bewyse gevind dat diesel waarvoor die kragverskaffer betaal het, weg is nie. Sy sê die ondersoek het wel gevalle bevestig waar Eskom-prosesse wat betalings aan sekere verskaffers betref, nie nagekom is nie:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente aangemoedig om stelsels, beheer en bestuur te versterk. Hy het met die raad vergader oor die inwerkingstelling van ‘n hofbevel, deurlopendheid en die toekomstige funksionering van die skema. Dit gaan oor van administrasie na tussentydse ooreenkomste soos die hof bepaal het. Manamela sê die hofbevel het nie die onderliggende probleme opgelos nie:
# Die stadsraad van die Stad Tshwane het, na bewerings van wangedrag ondersoek is, besluit om nie dissiplinêr teen die stadsbestuurder, Johann Mettler, op te tree nie. Hy is beskuldig van wanadministrasie, en dat hy nie die nodige verpligte kontrolering gedoen het van sommige amptenare wat by die Tshwane Metropolisiedepartement aangestel is nie. Die metro sê ‘n onafhanklike ondersoek het die aantygings behoorlik teen die getuienis getoets, en daar is tekortkominge identifiseer. Met die proses wat nou afgehandel is, is die fokus op die vestiging van bestendigheid in die administrasie.
# Chinese owerhede het reddingswerk naby die grens tussen Nepal en Tibet opgeskort oor vrese dat ʼn meer, wat tydens die aanvanklike modderstorting gevorm het en as ʼn versperring dien, nog ʼn ramp kan veroorsaak. Minstens 475 mense is in Nepal dood en een-duisend-300 word vermis ná dodelike kitsvloede in die Himalaja-grensgebied. In Tibet is drie mense dood en meer as 550 word vermis. Chinese owerhede sê dis uiters gevaarlik om voort te gaan in gebiede waar soek-en-reddingsoperasies voorkeur moet kry.
# Rugby: Die Springbokstut Thomas du Toit sê hulle is vasbeslote om die foute van verlede week se eerste toets teen die All Blacks reg te stel in môre se tweede kragmeting in Kaapstad. Suid-Afrika het op Ellispark 33-16 verloor en moet môre wen om die reeks te kan beklink. Du Toit, wat die wedstryd op die bank begin, sê elkeen sal sy bes doen om die beste wedstryd moontlik te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-718-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-597-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….