Nuus 09:00
BULLETIN 28 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Manamela sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente moet sterker stelsels en beheermaatreëls hê
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie ontvang ‘n vyfde lasbrief
# En Donald Trump onderteken ‘n uitvoerende bevel wat Lake Ontario na Lake America hernoem
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die raad van Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente aangemoedig om stelsels, beheer en bestuur te versterk. Hy het gister met die raad vergader om die implementering van ‘n hofbevel, institusionele deurlopendheid en die funksionering van die skema vorentoe te bespreek. Die skema gaan van administrasie oor na tussentydse ooreenkomste soos deur die hof bepaal is. Manamela sê die hofbevel het nie die onderliggende probleme by die skema opgelos nie:
# Die adjunkminister van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede in die Presidensie, Mmapaseka Letsike, het ‘n beroep gedoen dat maatskaplike en samehorigheidsekonomie die sleutel moet wees tot werkskepping, uitbreiding van eienaarskap en die lewering van meer insluitende ekonomiese groei. Sy het groei van 0,5-persent in die eerste kwartaal van hierdie jaar genoem, terwyl daar in die tweede kwartaal 8,5-miljoen Suid-Afrikaners amptelik werkloos was. Letsike sê die land moet ekonomiese instellings bou waar die konstitusionele waardes van waardigheid, gelykheid, vryheid en demokratiese deelname deel van mense se daaglikse lewe is.
# ‘n Vyfde lasbrief is uitgereik vir die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi. Dit gaan oor die bloulig-saga waarby die vermeende misdaadbaas, Vusimusi “Cat” Matlala, betrek word. Mkhwanazi het na bewering onregmatig toestemming gegee vir blou ligte op vier luukse privaat voertuie wat met Matlala se sekuriteitsmaatskappy, Cat Protection Services, verbind word. Die voertuie is na bewering onregmatig as bates van die Stad Ekurhuleni geregistreer. Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat sê die twee sal vandag in die Germiston-landdroshof verskyn.
# President Donald Trump het sy handelsoorlog met Kanada verskerp deur ʼn uitvoerende bevel te onderteken wat Lake Ontario se naam na Lake America verander. Die meer grens aan Ontario, Kanada en New York. Hy het verlede jaar ʼn uitvoerende bevel onderteken dat die Golf van Mexiko hernoem word na die Golf van Amerika, maar die Mexikaanse regering het dit verwerp. Trump sê die naamsverandering beklemtoon dat die meer se diepste water en die grootste deel van sy inhoud in Amerikaanse gebied is:
# Padwedlope: Die marathonwêreldrekordhouer, Sabastian Sawe, het onttrek aan volgende maand se Berlyn-marathon in Duitsland. Die 31-jarige Keniaan het die twee-uur-grens verpletter toe hy die Londen-marathon in April in een-uur-59-minute-30-sekondes gewen het. Berlyn sou sy eerste kompetisie sedertdien gewees het, en hy het uitgesien na die baie plat baan wat dit ‘n gunstelingwedren vir potensiële rekords maak. Sawe ervaar strawwe kompetisie van die Ethiopiër Yomif Kejelcha, wat die enigste ander man is wat ‘n marathon in minder as twee uur voltooi het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-851-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-584-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….