Nuus 08:00
BULLETIN 28 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê die bepalings in die BTW-wet maak voorsiening vir gesonde fiskale bestuur
# Koeberg Eenheid 1 word vanlyn gehaal, maar kernveiligheid word verseker
# En Rusland waarsku Brittanje oor katastrofiese gevolge vir sy steun aan Oekraïne
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die mag om belasting op toegevoegde waarde te verhoog, is goeie fiskale bestuur. Die Konstitusionele Hof het uitspraak voorbehou in ‘n regstryd oor wie die mag het om die BTW-koers vas te stel. Die DA het die hof genader om die Wes-Kaapse Hooggeregshof se uitspraak te bevestig dat dit ongrondwetlik is dat die minister van Finansies alleenreg het om die BTW-koers te bepaal. Godongwana se prokureur, Kameshni Pillay, voer aan die minister se mag om die koers te verhoog, is nie onbeperk nie:
# President Cyril Ramaphosa het goedkeuring gegee vir die vrystelling van die Nkabinde-paneel se verslag oor Gauteng-Suid se direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se bevoegdheid vir sy amp. Die paneel kon geen geloofwaardige bewyse vind dat Chauke onwettig opgetree het wat die vervolging van die voormalige KwaZulu-Natalse Valke-hoof, Johan Booysen, en die Cato Manor-eenheid betref nie. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die paneel het bevind Chauke het nie onregmatig opgetree in die uitvoering van sy koördinerings-funksies nie:
# Eskom sê hy het die Koeberg-kernaanleg se Eenheid Een veilig en volgens prosedure van lyn gehaal nadat ʼn turbine vroeg gisteroggend uitgeskakel het. Monitering van die aanleg het bevestig dat bedryfstoestande tydens die voorval bestendig gebly het. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê kernveiligheid was nooit in gedrang nie en daar was geen gevaar vir werknemers, die publiek of die omgewing nie. Sy sê Koeberg se beskerming- en moniteringstelsels funksioneer soos dit moet en verseker dat die eenheid altyd veilig is:
# Rusland se ministerie van Buitelandse Sake het gewaarsku Brittanje kan teruggeslaan kan word met aanvalle op militêre geriewe binne en buite Oekraïne. Dit volg nadat die Britse eerste minister Andy Burnham Maandag aangekondig het Brittanje sal Kiëf toegang gee tot geklassifiseerde tegnologie om sy eie produksie van Storm Shadow -langafstandkruismissiele te kan begin. Die woordvoerder van die Russiese ministerie van Buitelandse Sake, Maria Zakharova, sê Brittanje was een stap weg van wat sy beskryf het as terrorisme teen gewone burgers en sy waarsku dat daar katastrofiese gevolge sal wees as daar nie van koers verander word nie.
# Sokker: UEFA maak volgens berigte gereed om ʼn strafregtelike saak teen FIFA-president Gianni Infantino aanhangig te maak oor sy poging om aandele in die Wêreldbeker aan privaat beleggers te verkoop. Infantino het voorgestel ʼn nuwe maatskappy, FIFA Forward Enterprise, word gestig wat aandele in kompetisies aan privaat beleggers verkoop. Die plan is ná wydverspreide teenkanting laat vaar. UEFA beskuldig Infantino in hofdokumente van “misdadige wanbestuur” en sê sy voorstel was ʼn manier om wins te maak uit FIFA se waardevolste bates tot nadeel van die organisasie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-855-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-582-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….