Nuus 06:00
BULLETIN 28 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gift of the Givers is gereed om ses Suid-Afrikaners uit die Nepal-Tibet-oorstromings te red
# Die voormalige argitek van Nkandla word beveel om 147,2-miljoen-rand terug te betaal
# En rugby: Vyf spanne ding mee om die laaste twee plekke in die Curriebeker-halfeindstryd
# Gift of the Givers het ‘n span gereed om na Nepal te reis om minstens ses Suid-Afrikaners te red of te herwin wat as vermis aangemeld is ná verwoestende kitsvloede op die Nepal-Tibet-grens. Meer as 350 mense is dood, en meer as een-duisend-300 word vermis, insluitend van Indië, die VSA, Australië, Kanada en Brittanje. Die direkteur van Gift of the Givers, Imtiaz Sooliman, sê hulle is in voortdurende kontak met Nepalese Rampbestuur:
# Die regering het die moord op ‘n beampte van die Wes-Kaapse Taktiese Reaksiespan, Zamani Mzayiya, veroordeel. Mzayiya was in Knysna ontplooi om onlangse moorde te ondersoek, insluitend dié van voormalige burgemeester Aubrey Tsengwa. Die regering het belowe diegene wat verantwoordelik is, sal voor die gereg gebring word. Die adjunkwoordvoerder van die regering, William Baloyi, het die publiek versoek om misdaadaktiwiteite aan te meld en inligting te verskaf wat met die ondersoek kan help:
# Die Spesiale Tribunaal het die voormalige Nkandla-projekargitek, Minenhle Makhanya, gelas om 147,2-miljoen-rand aan die Nasionale Tesourie terug te betaal. Dit is vir verliese wat verband hou met onwettige sekuriteitsopgraderings by oudpresident Jacob Zuma se privaat woning. Die tribunaal het bevind dat Makhanya se aanstelling onwettig was en dat hy werk buite die sekuriteitsvereistes vir die opgraderings gemagtig het. Gevolglik het die projekkoste gestyg van die goedgekeurde 27,9-miljoen-rand tot 216-miljoen-rand. Die SOE sê enige bewyse van strafregtelike gedrag sal na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys word.
# Die DA sê slegs 202 openbare skole is in die afgelope 32 jaar in Gauteng gebou, wat ‘n gemiddeld van sowat ses skole per jaar is. Volgens die party is net een skool tans in aanbou, al benodig die provinsie minstens nog 200 skole om die oorbevolking aan te spreek. Sergio Isa Dos Santos van die DA het die provinsiale regering daarvan beskuldig dat hulle nie beloftes nakom om nuwe skole te bou nie:
# Rugby: Die naweek se laaste groepwedstryde sal die vier spanne in die voorlaaste Curriebekerronde bepaal. Die verdedigende kampioen, die Griekwas en die Cheetahs het reeds hul plekke in die tuishalfeindronde bespreek. Die Pumas, Boland Kavaliers, Stormers, Leeus en Haaie moet dit nou uitspook vir die oorblywende twee plekke. Die Leeus verwelkom die Stormers môre op Ellispark en die Haaie en die Bulle speel in Durban. Saterdag speel die Pumas en die Cheetahs in Mbombela, en Sondag sal die Boland, die Griekwas in Wellington verwelkom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-166-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-609-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Die New South Institute het Statecraft 2026, ‘n internasionale kongres oor demokrasie en openbare instellings, bekendgestel. Die geleentheid sal van 22 tot 23 September in Johannesburg plaasvind en beleidmakers, staatsamptenare, akademici en regeringskenners bymekaarbring. Besprekings sal fokus op die versterking van openbare instellings, die verbetering van dienslewering, etiese leierskap en hoe om demokrasie beter vir burgers te laat werk. Internasionale sprekers uit lande soos Suid-Afrika, Suid-Korea, Chili en Nigerië sal dit na verwagting bywoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….