Nuus 18:00
BULLETIN 27 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Politieke partye verklaar 117-miljoen-rand voor plaaslike verkiesing
# Soil of Africa vra die regering om finansiële geletterdheid in daadwerklike verbruikersbeskerming te omskep
# En, daar is ses Suid-Afrikaners onder die honderde vermistes in die Nepal-vloede
# Die Verkiesingskommissie sê politieke partye het tussen April en Junie 117-miljoen-rand in skenkings verklaar. Die DA het die grootste deel ontvang en 104-miljoen-rand verklaar, gevolg deur ActionSA met ses-miljoen-rand, die Arbeidersparty van Suid-Afrika met vyf-miljoen-rand, en Rise Mzansi met twee-miljoen-rand. Die OVK het ook voldoeningskwessies rakende 15-miljoen-rand in ANC-skenkings aangeteken. Die kommissie verwag politieke fondsinsameling sal toeneem voor die plaaslike verkiesing op 4 November.
# Voormalige hoof van die Valke Godfrey Lebeya sê hy het ‘n span gestuur om ‘n operasie by die huis van sakeman Katiso “KT” Molefe in Sandton te verifieer. Lebeya het aan die Madlanga-kommissie gesê hy ken Molefe nie en hy het ‘n oproep van Malcolm X ontvang, wat gesê het mense wat maak asof hulle is Valke, voer ‘n klopjag uit. Lebeya sê hy het senior polisiebeamptes gestuur om die inligting wat oor die operasie ontvang is, te verifieer:
# Soil of Africa vra sterker nasionale finansiële opvoedingsprogramme en verbruikersbeskerming, veral in townships en landelike gebiede. Dit is tans Geldslimweek met die tema: “Geldslim: Die krag van Moontlikheid”. Woordvoerder Luzuko Sofute sê finansiële opvoeding moet na gemeenskappe geneem word in ‘n taal wat hul verstaan. Hy meen ‘n dieper kennis van geldsake kan persone en huishoudings help om geleenthede te benut, finansiële welstand te verbeter en sterker finansiële veerkragtigheid te bou:
# Die dodetal in Nepal se vloedramp het tot minstens 356 mense gestyg, met honderde wat steeds vermis word nadat ‘n gletser-ineenstorting verwoestende oorstromings langs die Nepal-Tibet-grens veroorsaak het. Ses Suid-Afrikaners word tans as vermis aangemeld, maar plaaslike en internasionale rampowerhede het hulle nie onder die sterftes bevestig nie. Hulle is onder meer as 500 buitelandse burgers wat gestrand of onopspoorbaar is. Die Suid-Afrikaanse humanitêre organisasie, Gift of the Givers het soek-en-reddingspanne op bystand, maar sê toegang bly uiters gevaarlik, terwyl die US Geological Survey gewaarsku het oor nog ’n moontlike vloed.
# Krieket: Suid-Afrika speel môre teen die gasheer in die openingswedstryd van die T20-driehoekige reeks in die Namibiese hoofstad, Windhoek. Die ander deelnemer is die ander mede-gasheer van volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi, Zimbabwe. Elke span meet twee keer kragte met die ander twee en die twee top-spanne speel in volgende Sondag se eindstryd. Björn Fortuin sal die jong Protea-span aanvoer in die afwesigheid van verskeie meer ervare spelers, met opwindende spelers soos Dewald Brevis, Jordan en Rubin Hermann, Duan Jansen, Kwena Maphaka en Lutho Sipamla in die groep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-831-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-581-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 90-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….