Nuus 13:00
BULLETIN 27 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Beesstertpryse verdubbel terwyl Argentynse invoere beperk bly
# Die Parlement vra dringende ingryping terwyl die SASSA-kaart se sperdatum nader kom
# En tennis: Zverev en Sabalenka is die topgekeurdes in die Amerikaanse Ope
# Die Vereniging van Vleis-invoerders en-uitvoerders sê Suid-Afrikaanse verbruikers betaal hoër pryse vir beesstert omdat beperkings op invoere uit Argentinië die aanbod steeds onder druk plaas. Beesstertpryse het gestyg van tussen 79- en 99-rand per kilogram vroeër vanjaar tot 199-rand. Die vereniging sê Suid-Afrika maak sterk staat op Argentynse invoere, en het die Departement van Landbou gevra om die wetenskaplike basis vir die hersiene invoervereistes te verduidelik en dringend te heroorweeg.
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, verwelkom die inhegtenisneming van twee mans op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng vir beweerde wildsmokkelary. ‘n Vyftigjarige Thaise burger het 50 voël-eiers versteek in ‘n tuisgemaakte broeikassak. ‘n Drie-en-twintigjarige landgenoot het na bewering probeer om 418 papegaai-eiers in twee tuisgemaakte broeikasakke deur te smokkel. Maynier sê dit beklemtoon die toenemende gesofistikeerdheid van oorgrens-wildsmokkelnetwerke:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling vra die Posbank en die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA om rekenskap te gee van hulle gereedheid voor Maandag se vervaldatum van kaarte. Die migrasie van SASSA se gouekaart na die Posbank se swartkaart vind plaas weens kommer oor sekerheid. Die komitee se voorsitter, Bridget Masango, sê sy het voorheen kommer uitgespreek oor die instelling van swartkaarte:
Nuus uit die buiteland:
# Katar se eerste minister, Sheikh Mohammed bin Abdulrahman, sal vandag met Iranse amptenare in Teheran vergader om maniere te bespreek om spanning te ontlont en bevorderlike toestande vir dialoog te skep. Katar was tot nou ‘n belangrike bemiddelaar in die Amerikaans-Iranse konflik. Die land se Ministerie van Buitelandse Sake sê gesprekke sal insluit streeksveiligheid, vryheid van deurgang in die Seestraat van Hormoes en die noodsaaklikheid om normale bedrywighede te hervat. ‘n Vyfde van die wêreld se olie- en vloeibare aardgasuitvoere het voor die oorlog deur die seestraat beweeg.
# Tennis: Die Duitser Alexander Zverev en Aryna Sabalenka van Belarus is die top-gekeurdes in die Amerikaanse Ope-enkelspelkompetisies, wat Sondag op Flushing Meadows in New York begin. Zverev is eerste gekeur in die mansloting in die afwesigheid van die beseerde wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië. Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz van Spanje, is tweede gekeur, gevolg deur die Kanadees Felix Auger-Aliassime en die viermalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Elena Rybakina van Kazakstan is die tweede-gekeurde vrou, gevolg deur die Amerikaners Jessica Pegula en Coco Gauff.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-899-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-595-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….