Nuus 12:00
BULLETIN 27 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gesondheidsdepartement vra dringende landwye optrede om die immuniseringskrisis op te los
# ‘n Soektog is begin in Noordwes na ‘n man wat vermoedelik drie mense vermoor het
# En die verhoordatum is vasgestel vir die selfverklaarde baasbrein van die 9/11-aanvalle
# Die Gesondheidsdepartement vra dringende optrede teen dalende immunisering-syfers om uitbrekings te verhinder van siektes wat deur entstowwe voorkom kan word. Dié afname kan dekades van openbare gesondheidswinste vernietig, insluitend die beduidende vermindering in sterftes onder baba’s en kinders onder vyf wat sedert die middel-2000’s bereik is. Woordvoerder Foster Mohale sê die persentasie babas onder ‘n jaar wat gladnie ingeëint is nie, het gestyg van 12,1-persent in 2017 tot 36,3-persent vroeër vanjaar:
# Die polisie in Noordwes het ‘n soektog begin na ʼn 41-jarige man wat vermoedelik drie mense vermoor het. James Mohajane word gesoek in verband met die moord op sy vriendin, Moipone Lefoka, haar suster, Esther Lefoka, en Esther se kêrel, Tshepo Molekwa. Nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die drie slagoffers is blykbaar laas saam gesien by ʼn huis naby Makapanstad wat aan Molekwa behoort:
# Die Durbanse houer-terminaal doen stappe om agterstallige vrag op te klaar en gewone bedrywighede te herstel ná die instel van sy nuwe NAVIS-terminaalbedryfstelsel. Bedryfshoof Grant Bahlmann sê die stelsel is bestendig, maar beperkings met toerusting en terrein-opeenhoping vertraag die proses. Tydelike beperkings bly intussen van krag terwyl ingevoerde vrag verwyder word. Bahlmann sê bergingsfooie is opgeskort, terwyl skeepsrederye versoek is om bykomende gratis bergings- en afhaaltyd toe te staan en verligting te oorweeg vir kliënte wat deur vertragings geraak is.
Nuus uit die buiteland:
# Die selfverklaarde baasbrein van die terreuraanvalle op 11 September 2001, Khalid Sheikh Mohammed, gaan van Junie 2028 in Amerika teregstaan. Hy word daarvan beskuldig dat hy die aanvalle beplan het waartydens gekaapte passasiersvliegtuie teen die Wêreldhandelsentrum in New York en die Pentagon in Washington vasgevlieg het. Twee-duisend-976 mense het gesterf. Mohammed en twee medebeskuldigdes het pleitooreenkomste aangegaan om hulle van die doodstraf te vrywaar, maar ‘n Amerikaanse Appèlhof het dit geweier. Mohammed is in 2003 in hegtenis geneem en word vanaf September 2006 in Guantánamobaai aangehou.
# Tennis: Die Tsjegge Karolina Muchova en Jakub Mensik is die nuwe Amerikaanse Ope-gemengde dubbelspelkampioene. Hulle het 17,6-miljoen-rand verdien nadat hulle Belinda Bencic van Switserland en die Italianer Flavio Cobolli verslaan het vir hul eerste Grand Slam-titel. Muchova en Mensik het die eindstryd bereik nadat hulle in die halfeindronde twee wedstrydpunte afgeweer het teen Mirra Andreeva en Andrey Rublev van Rusland. Muchova sê hulle het nie verwag om te wen nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-833-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-600-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….