Nuus 08:00
BULLETIN 27 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA soek ‘n finale bevel oor die grondwetlike ongeldigheid van BTW-magte
# Dagga, Nyaope en aborsiepille is gekonfiskeer in die jongste skoolklopjag in Gauteng
# En vier Suid-Afrikaners word vermis na ‘n kitsvloed op die Nepal-Tibet-grens
# Die Konstitusionele Hof hoor vandag die DA se aansoek aan dat ‘n uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof aanvaar word wat ʼn artikel van die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde ongrondwetlik bevind het. Die artikel laat die minister van Finansies toe om die BTW-koers in die begroting aan te pas. Dit volg na verlede jaar se stryd oor die BTW-verhoging van twee-persent. Die DA appelleer ook daarteen dat die verklaring vir 24 maande opgeskort is. Hy sê die minister kan nie eensydig mag hê om die BTW-koers vas te stel nie.
# Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, sê tradisionele leiers is noodsaaklik om toestande vir vrye en regverdige verkiesings te skep. Moepya het tydens die OVK se vergadering met die Kongres van Tradisionele Leiers van Suid-Afrika in Gauteng, gesê tradisionele owerhede help om dissipline, respek en orde in gemeenskappe te handhaaf. Hy sê konsultasie is ook belangrik terwyl samewerking tussen tradisionele owerhede en die OVK voor die plaaslike regeringsverkiesing versterk word:
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê 17 skole is tydens polisie-geleide soek-en-beslagleggingsoperasies deursoek. Die doel is om dwelms, wapens en ander verbode items uit skole te verwyder. Vyf skole is gister besoek: Baleseng Junior Secondary School, Tiyelelani Secondary School, Ngaka Maseko Secondary School, Holy Trinity Secondary School en FR Smangaliso Mkhathwa Secondary School. Maile sê tydens die jongste operasie het hulle nyaope, aborsiepille en ʼn groot voorraad dagga gevind:
# Minstens 157 mense is dood en meer as 300 buitelanders, insluitend minstens vier Suid-Afrikaners, word vermis na ʼn massiewe kitsvloed en modderstorting in Nepal. ʼn Enorme wal modder en rotse het in die rivier op die Himalaja-grens tussen Nepal en Tibet gestort, en die kitsvloed veroorsaak. In China is drie mense dood en meer as 250 word vermis. Die vermiste buitelanders is burgers van Indië, die Verenigde Koninkryk, Amerika, Australië en Kanada. Sommige is ook van Suid-Korea, Nederland, Maleisië, Portugal en Suid-Afrika.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner, Stals Swart wat sy eerste Sonskyntoer-titel wil wen, loop voor by die Sunbet Challenge Wild Coast in Port Edward in die Oos-Kaap. Hy is na die eerste ronde twee houe voor op ses onder. Agt spelers is gelykop tweede met vier onder baansyfer. Dit sluit die Suid-Afrikaners Rupert Kaminski en Keagan Thomas in, asook Liam Grehan van Ierland. Die verdedigende kampioen, Austin Bautista van Australië, het twee onder baansyfer 68. Swart sê hy is tevrede met sy spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-875-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-634-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….