Nuus 17:00
BULLETIN 26 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wysig die reëls vir nulkoers op uitvoere
# Die Montagu veldbrand is onder beheer te midde van ‘n vroeë begin vir die Kaapse Wynland-brandseisoen
# En, honderde mense word vermis na kitsvloede in Nepal
# Die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het uitvoerregulasies gewysig om nulkoersheffing toe te laat wanneer roerende goedere wat vir uitvoer bestem is aan terminaaloperateurs en hawe-owerhede lewer word. Die Tesourie sê die verandering spreek praktiese probleme aan wat ondervind word by fasiliteite soos die Richardsbaai-steenkoolterminaal, waar privaat terminale deur Transnet-hawe-infrastruktuur gebruik word. Voorheen het die reëls vereis dat goedere direk aan die hawe-owerheid gelewer word. Die wysiging het ten doel om prosedures duidelik te maak en gladder uitvoertransaksies te fasiliteer terwyl die nulkoersraamwerk gehandhaaf word.
# Die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala het voor die Madlanga-kommissie getuig die voormalige Valke-hoof in KwaZulu-Natal, generaal Lesetja Senona, het hom aangemoedig om die kansellasie van sy SAPD-kontrak te betwis. Matlala het bevestig Senona het hom aangeraai om regshulp in te win en die hof te nader om die beëindiging van sy kontrak te probeer keer. Matlala het op vrae deur die getuienisleier, Adila Hassim, geantwoord dat Senona bloot sy belange op die hart gedra het. Matlala het Senona se betrokkenheid as ondersteunend beskryf:
# Die Brandweerdienste van die Kaapse Wynlande Distriksmunisipaliteit het ‘n weghol-veldbrand in die Kogmanskloof-gebied buite Montagu onder beheer gebring. Dit dui op ‘n vroeë begin van die 2026/2027-brandseisoen. Die munisipaliteit waarsku die brand dui op ‘n langer en meer veeleisende seisoen, wat druk op brandbestrydingshulpbronne, boere en natuurgebiede plaas. Die burgemeester Elna von Schlicht vra grondeienaars om droë plantegroei, oorgroeide brandpaaie en ander brandgevare voor die somer skoon te maak:
# Ten minste nege mense is dood en honderde toeriste word vermis na ‘n verwoestende kitsvloed langs Nepal se grens met Tibet. Reuters berig 384 reisigers, insluitend 291 buitelandse burgers, word vermis. Dorpies, paaie, brûe en hidro-elektriese projekte is meegesleur in die bergagtige Rasuwa-distrik. Owerhede sê ‘n modderstorting is moontlik veroorsaak deur ‘n aardbewing van 4,4, wat tot ‘n ys-en-rots-storting gelei en die Lhende Khola-rivier blokkeer het. Reddingspogings word belemmer deur beskadigde paaie en gevaarlike toestande, terwyl owerhede waarsku teen verdere oorstromings.
# Krieket: Engeland se toetskaptein, Joe Root, is teleurgesteld oor Saterdag se voorval in ‘n nagklub in Derby waarby die snelbouler Brydon Carse betrokke was. Videomateriaal wys hoe die polisie hom boei en weglei. Carse is daarna onttrek aan die groep vir die tweede toets teen Pakistan op Lord’s, terwyl die Engelse en Walliese Krieketraad die voorval na die Krieketreguleerder verwys het. Root sê voortgesette onaangename voorvalle van die veld is onaanvaarbaar:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-31-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-611-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 88-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….