Nuus 16:00
BULLETIN 26 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n KwaZulu-Natalse kinderseksoortreder word in Amerika tot 12-jaar tronkstraf gevonnis
# Brasilië vra sterker handelsbande met Suid-Afrika
# En die vragbedryf vra ‘n dringende plan om vertragings op die Durbanse hawe aan te pak
# ‘n Man van KwaZulu-Natal gaan die volgende aantal jare in ‘n Amerikaanse tronk deurbring nadat hy skuld erken het op aanklagte van die verspreiding en besit van inhoud wat die seksuele misbruik van kinders uitbeeld. Die 45-jarige Marcell Meyer het op ‘n plaas in Sackets Harbor, New York, gewerk. Die Distrikshof in Albany het hom 12-jaar-tronkstraf opgelê. Hy moet registreer as ‘n seksoortreder en sowat 334-duisend-rand aan sy slagoffers betaal. Die kantoor van die Amerikaanse aanklaer sê Meyer sal in aanmerking kom vir deportasie sodra sy vonnis uitgedien is.
# Die Brasiliaanse minister van Buitelandse Sake, Mauro Vieira, sê ‘n handelsending uit verskeie sektore is in Suid-Afrika om wedersydse voordelige geleenthede te ondersoek. Hy het tydens die agtste vergadering van die Suid-Afrika-Brasilië gesamentlike kommissie in Pretoria, samewerking in handel, wetenskap en tegnologie beklemtoon, veral in ruimtewetenskap, mariene navorsing en gesondheid. Vieira sê albei lande kan entstofproduksie en plaaslike gesondheidsvervaardiging versterk. Hy het ook groter samewerking in landbou en internasionale forums identifiseer:
# Die Suid-Afrikaanse Vrag- en Logistiekvereniging en die Padvragvereniging vra ‘n dringende herstelplan om die vloei van vragte op die Durbanse hawe-terminaal te herstel. Woordvoerder Gavin Kelly sê skepe het verlede maand gemiddeld 80-uur voor anker gelê en wag en die hoeveelheid gehanteerde vrag het met 26-persent gedaal ná die oorskakeling na die NAVIS N4-stelsel, terwyl skepe dubbel so lank in die hawe was. Kelly stel ‘n 30-dae herstelplan voor:
# Suid-Afrikaanse steenkoolprodusente belê toenemend in hernubare energie om koste te besnoei en uitstralings te verminder. Exxaro Resources beoog om teen 2030 een-duisend-600 megawatt se geïnstalleerde hernubare energie-opwekkingsvermoë deur sy filiaal Cennergi te lewer. Die onderneming se sonkragaanleg van 68-megawatt by die Grootegelukmyn in Limpopo het die myn se afhanklikheid van die nasionale kragnetwerk met 30-persent verminder, wat ‘n jaarlikse besparing van sowat 100-miljoen-rand meebring. Thungela Resources ondersoek intussen die moontlikheid om metaan uit steenkoollae in Limpopo te ontgin. Die projek sal na verwagting elektrisiteitskoste verminder en energiebedrywighede verder uitbrei.
# Sokker: Tottenham Hotspurs het ‘n aanvanklike bedrag van 1,6-miljard-rand betaal om die dienste van die Brasiliaanse vleuel Savinho van Manchester City te bekom. Die 22-jarige is nog nie as ‘n gereelde speler by City gevestig nie, maar Spurs glo hy kan hulle aanval met spoed en skeppendheid versterk. Savinho is opgewonde om onder hoofafrigter Roberto de Zerbi te werk, wat einde verlede seisoen verhoed het dat Spurs die eerste keer in 49 jaar gerelegeer word uit die Engelse Premierliga. De Zerbi sê Savinho bring energie, verbeelding en gehalte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-193-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-619-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….