Nuus 15:00
BULLETIN 26 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA gaan in 24 munisipaliteite altesaam 794 kandidate stel
# Matlala word gewaarsku oor ernstige gevolge vir sy weiering om vrae te beantwoord
# En tennis: Inwoners van New York kry ‘n afslagprys vir die Amerikaanse Ope
# Build One South Africa gaan in die plaaslike regeringsverkiesing van 4 November meeding om setels in 24 munisipaliteite in vyf provinsies met altesaam 794 kandidate. Woordvoerder Graham Charter sê dit sluit die munisipaliteite van Johannesburg, Tshwane, Ekurhuleni, Kaapstad en Mangaung in, wat altesaam sowat 25-miljoen inwoners verteenwoordig. Hy sê 37-persent van die kandidate is onder 35 en 45-persent is vroue, afkomstig uit beroepe soos onderwys, ingenieurswese, gesondheid en entrepreneurswese. Hy sê die party sal sy verkiesingsmanifes op 4 September bekendstel.
# Kommissaris Sesi Baloyi van die Madlanga-kommissie het die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala gewaarsku sy herhaalde weiering om vrae te beantwoord kan ernstige gevolge inhou. Matlala het geweier om vrae te beantwoord oor die voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona. Baloyi sê getuies mag slegs weier om vrae te beantwoord as die inligting deur die reg beskerm word of wanneer antwoorde teen die getuie gebruik kan word:
# Die Tshwane Metropolisiedepartement het 20 onwettige immigrante in Bronkhorstspruit en Atteridgeville in hegtenis geneem tydens geteikende wetstoepassingsoptredes teen onwettige immigrante. In die Bronkhorstspruit-omgewing alleen is 16 mense in hegtenis geneem vir oortredings van die Immigrasiewet. Woordvoerder Puleng Motholo sê 59 AARTO-oortredingskennisgewings is ook uitgereik en talle geboue is inspekteer:
# Tennis: Inwoners van New York kry die kans om goedkoper kaartjies te koop vir die Amerikaanse Ope. Burgemeester Zohran Mamdani en die Amerikaanse Tennisvereniging het aangekondig ‘n duisend kaartjies sal beskikbaar wees teen ‘n honderd dollar – ongeveer een-duisend-600-rand – elk in ‘n poging om die toernooi meer bekostigbaar te maak vir plaaslike inwoners. Dit is van vandag beskikbaar op die basis dat eerste kopers eerste gehelp word. Ander kaartjies verkoop teen sowat vier-duisend-600-rand elk. Die toernooi begin Sondag op Flushing Meadows.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-657-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-617-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: Standard Bank het die tien finaliste vir sy Nasionale Kasi-kleinsakekompetisie aangekondig. Hulle sal môre tydens die Kasi-kleinsakeberaad in Gqeberha meeding om die groot prys van ‘n miljoen-rand. Die groep bestaan uit nege provinsiale wenners en een deelnemer wat die publiek aangewys het. Die entrepreneurs werk in verskeie bedrywe, insluitend landbou, gesondheidsorg, vervaardiging en bouwerk. Standard Bank se ontwikkelingshoof, Naledzani Mosomane, sê die kompetisie beklemtoon die uitsonderlike talent in gemeenskappe:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….