Nuus 13:00
BULLETIN 26 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Moordondersoek in Knysna neem ‘n dodelike wending
# ‘n Geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir skadelike wind in die Wes-Kaap
# En tennis: Federer vier ‘n suksesvolle terugkeer na Flushing Meadows
# ‘n Polisiekaptein wat die moord op die voormalige burgemeester van Knysna, Aubrey Tsengwa, ondersoek, is vanoggend dood tydens ‘n skietgeveg. Die offisier van die Taktiese Reaksiespan is verlede week na die Wes-Kaapse dorp ontplooi ná die moord op Tsengwa en nog twee ANC-politici, Mandla Matiwane en Mandla Tyololo. Polisiewoordvoerder Novela Potelwa sê die beampte is noodlottig getref tydens ‘n operasie in die Sewendelaan-informele nedersetting gemik op onwettige vuurwapens. ‘n Agt-en-dertigjarige verdagte is ook doodgeskiet.
# Die Wes-Kaapse E-taxivereniging en Operasie Ubuntu vra die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy en die polisie om dringend op te tree teen die voortgesette aanslag op e-taxibestuurders op die Kaapstadse Internasionale Lughawe. Volgens berigte intimideer en val mans met klapmusse e-taxibestuurders aan. Operasie Ubuntu se woordvoerder, July Eccles, sê ACSA en die polisie se gebrek aan optrede stel die bestuurders en passasiers se lewens in gevaar:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n Geel Vlak 2-waarskuwing uitgereik vir skadelike wind langs die Wes-Kaapse kus. Die gevaarlike toestande sal na verwagting vanmiddag ooswaarts versprei na Plettenbergbaai. ‘n Woordvoerder vir die Mosselbaaise munisipaliteit, Cornelle Carstens-Johnston, sê die sterk wind kan navigasie bemoeilik en klein hawens en strandbedrywighede ontwrig:
Nuus uit die buiteland:
# Die Sentrum vir Menseregte in Iran veroordeel Teheran se voorgestelde wetgewing om kontak en onderhoude met buitelandse media strafbaar te maak. Dit volg te midde van wyer staats-optrede teen die deel van inligting met die buiteland. Die wetgewing kan daartoe lei dat oortreders tussen ses maande en twee jaar tronkstraf opgelê word. Die sentrum sê dis nie bloot ‘n aanval op die media nie, maar ‘n poging om die hele Iranse samelewing van die res van die wêreld te skei deur die vryvloei van inligting te kriminaliseer.
# Tennis: Die Switserse legende Roger Federer het ‘n suksesvolle terugkeer gemaak na Flushing Meadows in New York tydens vertoonwedstryde tussen gewese kampioene voor die Amerikaanse Ope. Die 45-jarige Federer het eers vir Andy Roddick in ‘n enkelspelwedstryd geklop voor hy en John McEnroe vir Roddick en nog ‘n Amerikaner, Andre Agassi, in ‘n dubbelspelwedstryd verslaan het. Die Arthur Ashe-stadion was volgepak met ondersteuners van die tennishelde van weleer. Federer het vyf van sy 20 Grand Slam-titels in die toernooi gewen. Vanjaar s’n begin Sondag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-416-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-616-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….